SA kort meer premie-handelsmerke om wêreldwyd impak te hê, meen Britse wynkenner

Ondanks al die positiewe gebeure in die plaaslike wynbedryf, ly Suid-Afrika se beeld as wynland steeds onder die persepsie van een wat goedkoop wyn maak, aldus die gesaghebbende Britse wynskrywer en –beoordelaar, Tim Atkin MW.

Volgens hom is daar ongelukkig steeds te groot klem op grootmaatwyn, wyn wat van Suid-Afrika verskeep word, oorsee gebotteleer word en op die rak teen ’n appel en ’n ui verkoop word.

“Die meeste van die produsente wat uitsonderike wyne die lig laat sien – en julle het baie – produseer op ’n skaal wat te klein is om die groter markplek te haal.

“Die sleutel tot sukses is goeie wyn teen ’n relatiewe hoë prys wat in die soort hoeveelhede gemaak word wat sorg dat mense oor die wêreld heen kennis daarvan kan neem. In Suid-Afrika is Kanonkop en Kleine Zalze, en Marc Kent se Chocolate Block, op die regte pad, maar oor die algemeen is daar nie genoeg premie-handelsmerke om die soort bewustheid te skep en beeld te bou wat die land verdien nie.”

Atkin is tans op sy sewende besoek aan Suid-Afrika om saam met die bedryfsligaam, Wines of South Africa (WOSA), sy onontbeerlike South African Special Report saam te stel. Dis waarskynlik die deeglikste jaarverslag oor plaaslike wyne.

“Die klassieke plase maak steeds wonderlike wyne. Dan is daar ’n dinamiese gees onder jonger wynmakers, die mense wat met nuwe druifsoorte ekpsperimenteer en wat wingerde in afgeleë gebiede soos die Swartland gaan soek,” voeg hy by.

“Daar is ook die waardering vir die ouer wingerde wat hier staan, dan is daar ook die gees van vernuwing. Dis alsbaie opwindend, besielde wynmense wat uniek in die wêreld is, diversiteit van wingerdgrond en streke … en die natuurlike plantomgewing in die wynlande. Maar bowenal die wyne. Met elke besoek is die wyne beter!”

Atkin meen chenin blanc is waarskynlik Suid-Afrika se interessantste en beste kultivar. “Dit weerspieël terroir soos geen ander nie en as gevolg van die wye aanplantings wat die KWV destyds vir brandewynstook aangemoedig het, is die spektrum chenins wat mens hier kry net eenvoudig fantasties!”

Een van die faktore wat lei tot die energieke gees in die plaaslike wynbedryf is die feit dat dit relatief maklik is vir ’n wynmaker om die bedryf te betree en sy of haar eie stempel op ’n wynreeks te plaas, meen Atkin.

“Jy kan kelderruimte huur, druiwe koop uit die streek wat jy soek, en daar gaan jy. ’n Jong Franse wynmaker kan nie dink om so iets byvoorbeeld in Boergondië te doen nie. Daar is die bedryf geslote en toegang tot wingerd en druiwe onbekostigbaar.”

Daar IS dus lig aan die eindpunt van die tonnel vir Suid-Afrikaanse wynmakers … en dis NIE ’n aankomende trein nie!

Tjorts!

EINDE

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

You may use these HTML tags and attributes:

<a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <s> <strike> <strong>