“Dit is opmerklik dat internasionale beoordelaars, hoofsaaklik Britse en Europese spiritusaankopers en –distilleerders, insluitend Cognac-distilleerders, veral die nuwe, eiesoortige styl van moderne Suid-Afrikaanse brandewyne geniet,” vertel Dave Hughes, distilleerder en hoog aangeskrewe wyn- en spiritusbeoordelaar.
Hy wys daarop dat Suid-Afrikaanse brandewynmakers as wêreldkenners op die gebied van die uitwerking van houtveroudering op gehalte-wynspiritus beskou word, op grond van navorsing deur ‘n plaaslike brandwynmeester.
“Die verandering van styl van die tradisionele swaar gehoute Cognac, wat baie lande nog steeds probeer naboots, is die gevolg, nie van enige verswakking van ons buitengewone streng wetgewing rakende brandewynmaak nie, wat houtveroudering insluit en gegrond is op die Cognac-tradisie, maar wel as gevolg van beter hantering van die veroudering van spiritus in eikevate wat fyn behandel en noukeurig uitgesoek word.”
Hy reken ook ons moderne brandewyne is meer vrugtig, elegant, ‘n eiesoortige produk van ons sonnige klimaat.
“Onthou, dit neem ‘n lang tyd, jare, om die styl van ‘n brandewyn te verander, veral dié in die kategorieë van lang houtverouderde produkte. Maar selfs dié bly wêreldkampioene.”
Spanje se Jerez-brandewyne was die sterkste mededingers op die onlangse IWSC, volgens Hughes. “Hulle begin ook om ‘n eiesoortige identiteit te vind.”
Hy het ook die individualiteit binne die verskeidenheid Suid-Afrikaanse top-gehalte brandewyne die lof toegeswaai. Dit is veral betoon deur die prestasies van die kleiner distilleerderye soos Southern Cape Vineyards en Oude Molen. Maar hy was veral in sy noppies met die sukses van Klipdrift Export, ‘n groot handelsmerk in die kategorie van versnit-brandewyne.
Einde
© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy
Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast