SA brandewyn weer eens die beste ter wêreld!

Date posted:
August 1, 2011

’n Luukse potketelbrandewyn van die FINE BRANDY. BY DESIGN™-portefeulje van Suid-Afrikaanse brandewyne is tydens die International Wine & Spirit Competition (IWSC) van 2011 as Beste Brandewyn ter Wêreld bekroon. Die Van Ryn’s 20 Year Old, geproduseer deur die Van Ryn’s-distilleerdery naby Stellenbosch, is as die toppresteerder in Londen aangewys.

 

Luidens die organiseerder van die kompetisie, waartydens alle inskrywing “blind” geproe word*, het 19 lande druiwebrandewyn vir vanjaar se kompetisie ingeskryf. “Selfs lande soos Engeland en China het silwer medaljes verower, net soos lande met ’n lang maar onbesonge tradisie van brandewyndistillering, soos Armenië en Bulgarye.”

 

Dit is die vierde keer dat Van Ryn’s die lof van Beste Brandewyn ter Wêreld by die IWSC toegeswaai word, en die sewende keer dat die distilleerdery die beste brandewyn by ’n internasionale kompetisie opgelewer het. Van Ryn’s het die Beste Brandewyn-trofee by die International Spirits Challenge (ISC) ook reeds drie maal huis toe gebring.

 

Ander Suid-Afrikaanse FINE BRANDY. BY DESIGN™-brandewyne wat tydens die IWSC van 2011 as die beste in hul klas aangewys is, of goue medaljes verower het, is die Van Ryn’s 10 Year Old en Klipdrift Gold, ’n potketelbrandewyn wat vroeër vanjaar ook met ’n goue medalje van die Concours Mondiale de Bruxelles, in Europa gesetel, gespog het.

 

“Dié jongste uitslae lewer nogmaals bewys dat Suid-Afrikaanse brandewyne jaar na jaar, ongeag die internasionale kompetisie, uitsonderlik goed kan presteer,” sê Carrie Sanders, die handelsmerkbestuurder vir FINE BRANDY. BY DESIGNTM.

 

Sy sê ook dié jongste titel, hoogste punte en goue medaljes by een van die belangrikste uitstalkaste vir die globale spiritualieëbedryf bevestig aan plaaslike liefhebbers van brandewyn dat wanneer hulle Suid-Afrikaanse handelsmerke soos Van Ryn’s, Klipdrift en Oude Meester geniet, dit brandewyne is wat deur die kundigste mense as die beste ter wêreld beskou word.

 

Die IWSC het boonop goue medaljes toegeken aan die Van Ryn’s 12 Year Old en die 15 Year Old – nog ’n brandewyn wat by die 2011 Concours Mondiale met goud bekroon is.

 

Die Oude Meester Reserve 12 Year Old het die beoordelaars ook beïndruk, en het by die IWSC, asook die vroeëre Concours Mondiale, goue medaljes verdien.

 

“Konjak, maar ook luukse-brandewyn, trek aandag in die Ooste, veral China en Indië, en sulke toekennings help om Suid-Afrika se status as ’n produsent van wêreldgehalte ’n hupstoot te gee.

 

“Die land se brandewyne het ’n onkreukbare naam vir uitnemendheid. Die titel van Beste Brandewyn ter Wêreld by die IWSC is in die afgelope 13 jaar reeds tien keer aan ’n Suid-Afrikaanse produk toegeken. Verskeie internasionale beoordelaars noem dat Suid-Afrikaanse brandewyne buite die AOC-streke van Frankryk die vaandeldraers vir verouderde brandewyn van gehalte word.”

 

Die kleinhandelprys van Van Ryn’s se brandewyne in Suid-Afrika is omtrent R200 vir die 10 Year Old tot ongeveer R1 000 vir die 20 Year Old. Hulle is van gekeurde handelaars in spiritualieë orals in die land te kry, en ook by die Van Ryn’s-distilleerdery. Die Oude Meester 12 Year Old Reserve kos ongeveer R350 en die Klipdrift Gold ongeveer R200. Albei is by gespesialiseerde spiritualieë-kleinhandelaars te kry.

 

Einde

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy

Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast

facebookinstagram