SA brandewyn kraai (weer) koning op wêreldverhoog

Date posted:
August 13, 2010

Was dit die titseltjie pinotage-druif wat die knoop deurgehaak het? Hoe dit ook al sy, ‘n Suid-Afrikaanse brandewyn het weer eens die fynproewers van die wêreld se spiritusbedryf tot so ‘n mate bekoor dat hulle dit as Beste Brandewyn ter Wêreld aangewys het. Hierdie besonderse eer het Laborie se Alambic-brandewyn te beurt geval.

 

Dié toekenning, gedoen op die 2010- International Wine and Spirits Competition (IWSC) onlangs in Londen, bring die aantal jare dat ‘n plaaslike brandewyn heelbo uitstyg by hierdie toonaangewende kompetisie die afgelope 12 jaar op ‘n ongekende nege te staan. Dit is ook die vierde agtereenvolgende jaar dat ‘n plaaslike brandewyn hier koning kraai.

 

“Geskok, maar absoluut verheug,” is hoe KWV se hoof-brandewynmeester, Kobus Gelderblom, sy reaksie op die verblydende nuus beskryf. “Geskok, want ons het verwag dat van ons ander tradisionele top-presteerders soos KWV se 15- of 20-jaaroue brandewyne vanjaar die knoop sou deurhaak, veral omdat albei van hulle al vanjaar by ander vooraanstaande kompetisies goue medaljes verower het en albei voorheen reeds as ‘Beste Brandewyn ter Wêreld’ aangewys is. Maar verheug omdat dit ‘n landgoedbrandewyn is wat slegs in klein hoeveelhede berei is van druiwe afkomstig van Laborie, ons wynlandgoed in die Paarl.”

 

Volgens Gelderblom beaam die uitslag sy passie vir en geloof in pinotage se geskiktheid as ‘n druifsoort vir die distillering van kwaliteit-brandewyn. Dié spesifieke Laborie Alambic, ‘n vyfjaaroue potketelbrandewyn, is ‘n ongewone versnit van hoofsaaklik chardonnay met ‘n titseltjie pinotage wat in ou rooiwyn-eikehoutvate verouder is.

 

“Die chardonnay gee struktuur, die pinotage bring wonderlike perske- en appelkoosgeure, en die geheel is afgerond met ‘n bietjie 10-jaaroue brandewyn om kompleksiteit aan die finale versnit te verleen,” verduidelik Gelderblom.

 

Die IWSC staan alombekend as ‘n internasionale maatstaf vir die toets van die tegniese en stilistiese gehalte van die wêreld se beste wyne en spiritualieë. Dit is die mees gevestigde kompetisie en het in 1969 ontstaan. Produkte word “blind” geproe deur panele bestaande uit kenners met wêreldwye kennis van die spesifieke kategorie en styl wat hulle beoordeel.

 

Riaan Marais, voorsitter van die Suid-Afrikaanse Brandewynstigting, sê: “KWV, alreeds ‘n ikoon onder Suid-Afrikaanse brandewyne – dit is immer die sesde keer dat KWV dié toekenning ontvang – is deel van die blink toekoms vir ons plaaslike brandewyne. En dit is ‘n riem onder die hart om te sien dat dié spesifieke brandewyn, een van die KWV se minder bekende produkte, so erken word.”

 

Suid-Afrikaanse brandewyne het algeheel ‘n merkwaardige vertoning by vanjaar se IWSC gelewer. Elkeen van die 31 produkte wat ingeskryf is, het óf ‘n goud (12) óf ‘n silwer (19) medaljes gewen.

 

Soos Dave Hughes, veteran- internasionale wyn- en-spiritusbeoordelaar, voormalige distilleerder en een van die Suid-Afrikaanse kenners wat gereeld by die IWSC proe, uitwys: “Vanuit byna 100 brandewyn-inskrywings het slegs 13 goue medaljes ontvang. Die enigste ander land om goud te wen, met slegs een brandewyn, is Spanje.”

 

Van die 12 Suid-Afrikaanse goue medaljewenners, is ses as beste in hul klas aangewys, en van die 19 silwers het drie in hul onderskeie kategorieë bo uitgekom.

 

 

 

Links: Mooi op die oog, heerlik in die neus, asemrowend in die mond! Uitkyk se landgoedbrandewyn lyk soos goud want dit is goud!

 

 

 

 

Buiten die Laborie Alambic is die ander Suid-Afrikaanse brandewyne wat goud verwerf het (en as beste in hul klas aangewys is) Flight of the Fish Eagle, Oude Meester Souverein 18 Year, Oude Meester VSOB, Van Ryn’s 12 Year Distillers Reserve, Van Ryn’s 15 Year Fine Cask Reserve, Oude Molen Solera Grand Reserve en Uitkyk Grand Reserve 10 Year Estate Brandy. Die ander goue medaljes is verower deur KWV 15 Year, KWV Imoya VSOP, Oude Meester Reserve 12 Year en Klipdrift Export.

 

Die Laborie Alambic se prestasie, sowel as die uitstaande vertoning oor die algeheel deur Suid-Afrika se brandewyne by die 2010- IWSC, bekroon ‘n jaar van top internasionale resultate vir die land se gewildste spiritusdrankie. Omtrent 45 miljoen liter brandewyn word elke oesjaar hier gemaak, wat byna die helfte van die totale spiritusmark verteenwoordig.

 

Van buitengewone betekenis by vanjaar se spesialis International Spirits Challenge (ISC) in Engeland, byvoorbeeld, was dat slegs Suid-Afrikaanse produkte – vier van ons brandewyne – daarin geslaag het om goue medaljes in hul onderskeie kategorieë te verower. Suid-Afrika het ook verreweg die meeste silwer medaljes gewen, vyf uit die slegs ses wat toegeken is.

 

By Europa se vooraanstaande, jaarlikse Concours Mondial de Bruxelles, ook onlangs gehou, het twee Suid-Afrikaanse brandewyne goud gewen: die KWV 15 Year en die Joseph Barry Cape Pot Still 10 (albei is voormalige IWSC Beste Brandewyn ter Wêreld-wenners in onderskeidelik 2007 en 2009). Ses plaaslike brandewyne het silwer medaljes ingepalm.

 

Alhoewel onlangse groei in die brandewynmark ‘n verblydende skuif na premie-brandewyne onder verbruikers toon, is die plaaslike bedryf veral trots dat Suid-Afrikaanse brandewyne oor die breë stylspektrum (insluitende versnitbrandewyn, premie-potketel en oesjaarbrandewyne) internasionaal erken word vir hul voortreflike gehalte.

 

Einde

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy

Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast

facebookinstagram