SA brandewyn kom met hande vol goud huistoe

Date posted:
July 28, 2010

Wat ons sokker- en rugbyspanne nie kan vermag nie, het Suid-Afrikaanse brandewyn lag-lag reg gekry op die internasionale verhoog deur ‘n ryk oes toekennings, insluitende vier goue medaljes, in te palm by die 2010- International Spirits Challenge (ISC). Dié prestasie herbevestig brandewyn, een van Suid-Afrika se mees ikoniese produkte, se internasionale status as die beste ter wêreld. 

 

Die ISC, nou in sy 15de bestaansjaar, word beskou as een van die mees gesaghebbende internasionale kompetisies uitsluitlik vir spiritusprodukte met ‘n hoogs gerespekteerde beoordelaarstelsel en deelname van regoor die wêreld.

 

Slegs Suid-Afrikaanse produkte kon dit regkry om goue medaljes te verower in die betrokke kategorieë waarin hulle deelgeneem het. Die vier uitblinkers is KWV 20 Year Old Potstill (gedistilleer deur KWV by hul Worcester-distilleerdery), asook Van Ryn’s 10 Year Old Vintage, Van Ryn’s 15 Year Old Fine Cask Reserve en Mellow Wood Standard, almal gedistilleer deur Distell by hul Van Ryn’s-distilleerdery buite Stellenbosch.

 

Suid-Afrika het ook verreweg die meeste silwer medaljes - vyf uit die ses wat toegeken is - ontvang.  Dit is verower deur Oude Meester VSOB, Oude Meester Reserve 12 Year Old, Klipdrift Export en Richelieu (almal van Distell) en Uitkyk Brandy, geproduseer deur Cape Legends. Sewe bronsmedaljes is ingepalm, terwyl nege brandewyne vermeldings ontvang het. 

 

“Geen ander land kan kers vashou by ons brandewyn nie,” sê Riaan Marais, voorsitter van die Suid-Afrikaanse Brandewynstigting. “Met hierdie uitslae gaan Suid-Afrikaanse brandewyne voort om hulself as onbetwisbaar onder die wêreld se bestes te bewys. “

 

Marais sê dit is verblydend dat Suid-Afrika die kategorieë waarin daar meegeding is ten volle oorheers het met sowel die getal medaljes as die aantal inskrywings.

 

“Suid-Afrika se inskrywings het die afgelope twee jaar bykans verdriedubbel, van 14 inskrywings in 2008 teenoor 36 inskrywings vanjaar. Dit dui op die dinamiese aard van die plaaslike brandewynbedryf en die uitstaande gehalte wat deurgaans oor alle brandewynstyle gehandhaaf word.”

 

Die uitstekende resultate volg kort op die hakke van Suid-Afrika se prestasies by die jaarlikse internasionale Concours Mondial de Bruxelles wyn- en spiritus kompetisie waar twee goue en ses silwer medaljes verower is.

 

Op die plaaslike front gaan Suid-Afrikaanse brandewyne vanjaar vir die eerste keer deelneem aan die Veritas-kompetisie. 

 

Einde

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy

Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast

facebookinstagram