Vir ons tweede besoek aan ‘n brandewynprodusent in die reeks oor die produsente van die beste brandewyn ter wêreld, vat ons die pad na die Roete 62-brandewynroete en gaan kuier ons anderkant Oudtshoorn by Mons Ruber.
Hierdie landgoed, geleë op die prentjiemooi pad tussen Oudtshoorn en De Rust, maak sedert 1850 reeds wyn.
Soos talle ander plase in die omgewing het Mons Ruber ? lang geskiedenis in distillasie. Toe die prys van volstruisvere wêreldwyd begin val het in 1913, het boere oorleef deur witblits te distilleer en te verkoop – iets wat die Klein-Karoo se unieke distilleringskultuur aangewakker het. Meer onlangs het Mons Ruber begin brandewyn maak waar dit oor ? oop vuur gedistilleer word in ? potketel wat dateer uit 1936.
Dié potketel, eie aan die omgewing, is geleë langs ? leivoor vir verkoeling, ? lemoenboom wat geur tot die distilleerwyn voeg, ? vyeboom wat aandui wanneer distillasie kan begin (wanneer die vye ryp is!) en ? wilgerboom vir skadu. Hierdie is ? versnit van vyfjaaroue sultana- en muskadel-wyne.
Links: Veel nader aan die natuur kan mens seker nie brandewyn stook nie!Die volstruise hou wag oor die broeisel.
Naby De Rust aan die voete van die rooi klipberg waarvan Mons Ruber sy naam ontleen, vertel Radé Meyer opgewonde hoe in ekstase hy was om in 1991 ? privaat distilleerlisensie te kon kry om sy eie Mons Ruber Natuurlike Potketelbrandewyn te maak. Sy oupa het lank terug vyf klein koperpotketels besit wat als in 1920 deur bedryfsamptenare vernietig is. Hy’t steeds in die 1940s gestook met ? privaat lisensie, maar alle produkte moes aan brandewyn-groothandelaars gelewer word.
Sy nageslag gebruik vandag dieselfde koperpotketel wat buite die klein 1850-wynkelder opgerig is. Die vuur word eg tradisioneel steeds met die hand gestook.
Mons Ruber se proelokaal is omskep uit ? tolhuis wat daarna ? losieshuis en gewilde watergat geword het. Dis blykbaar híér waar die Afrikaanse digter, CJ Langenhoven, ? ernstige brandewynliefhebber, die woorde van Die Stem, die Republiek van Suid-Afrika se nasionale volkslied, neergepen het.
Besoektye
Maandag-Vrydag: 09:00-17:00
Saterdag: 09:00-13:00
Kontakbesonderhede
Tel: 044 251 6550
Faks: 044 251 6550
E-pos: monsruber@gmail.com
Wanneer jy dus weer hierdie pad vat, doen jouself ‘n guns en gaan loer in by Mons Ruber. Dis beslis iets anders!
Einde
© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy
Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast