“A mind of the caliber of mine cannot derive its nutrients from cows!” Aldus George Bernard Shaw. En wie is ek en jy om met so ‘n briljante brein te verskil!
Glo my, Shaw praat van net een ding, en dis nie melk nie. Nee, dis daai lieflike voggies van die wingerdstok.
Met al die lekker dinge van die lewe in gedagte, soos wyn, kos en mense, het ek vroeër vanjaar vir ‘n paar wynmakers in die Robertson-wynvallei gaan kuier, net om myself te vergewis van wat hulle alles aanbied en of daai wêreld ‘n besoek werd is nadat die stof van al die feesgangers gaan lê het.
Dit is! Glo my, dit is! Om die waarheid te sê, dis eintlik lekkerder wanneer daar nie so baie mense is nie. Die Robertson-wynvallei behels natuurlik nie net Robertson nie, maar ook Ashton, Bonnievale en McGregor.
My besoek het afgeskop by Bon Cap (023-626-1628), ‘n produsent van organiese wyn in die Eilandia-vallei, ‘n handvol km voordat jy Robertson kry op die R60. Jy draai regs op die Eilandiapad, ry oor koppies “die Karoo in” en skielik ontvou die pragtige Eilandia-vallei voor jou. Roelf du Preez is die sewende geslag op die plaas en saam met sy vrou Michelle het hulle ‘n pragtige oase hier geskep met wyn, ‘n bistro, ‘n gasteplaas met verblyf teenaan die Breederivier bekend as Weltevrede @ Bon Cap (023-626-2073) en konferensie- en ander geriewe.
Bo: Bon Cap se wynmaker, Marinus Potgieter, staan trots by sy "kinders" tydens ons proesessie.
Nadat Marinus Potgieter, wynmaker, my ‘n hele paar van hul heerlike Bon Cap- en The Ruins-wyne laat proe het, moes ek ongelukkig groet want daar’s net soveel ure in ‘n dag, en hoe meer jy jou dag geniet, hoe minder raak hulle mos!
Terug pad toe is ek, en met die ou geleende Renaultjie se neus in Robertson se rigting is ek weer vort. Nie veel verder nie is ek weer regs, hierdie keer na Goree/Riverside so skuins anderkant Graham Beck Wines. En so het ek aangery totdat ek by die Nerina Guest Farm aangekom het waar die Kolgans-rivierboot en die vier “jong kanonne” van die Robertson-wynstreek vir my gewag het vir ete en wynproe.
Al geselsend, etend en drinkend is ek, Cobus Marais (Cloverfield /023-626-4118), Neil Colyn (Koningsrivier/023-625-1748), Peter de Wet (Excelsior/023-616-2050) en Colyn Truter (Rietvallei/023-626-3596) rivier af in die bekwame hande van die skepper van Oompie se Oeps. Oompie se Oeps is een van daai snaakse wynstories. Kortliks is dit die gevolg van wingerd aanplant na ‘n deeglike gefuif, en toe is pinotage en shiraz sommer so deurmekaar geplant in dieselfde wingerd! Die gevolg was Oompie se Oeps in ‘n bottel!
Die passie en entoesiasme waarme die vier jong wynmakers my van hul wyne vertel het, het my weer nuwe vertroue in die toekoms van ons wynbedryf gegee. Met sulke manne kan ons bedryf net van krag tot krag gaan. En nie een van die wyne wat ek op die boot geproe het, hoef skaam te wees in groot geselskap nie.
Nog was dit het einde niet! Bon Courage (023-626-4178) het gewag en ek’s net anderkant Robertson regs op die pad na Bonnievale tot by die Bruwers se spogplaas. André en sy seun, Jacques, maak ‘n reeks uitmuntende wyne hier, wat wissel van edel wittes en klassieke rooies tot gefortifiseerde desertwyne en pryswennende Cap Classique-vonkelwyne.
Bo: Jacques Bruwer by genoeg van sy MCC-vonkel om baie partytjies vir baie lank aan die gang te hou!
‘n Proe van vyf wyne waartydens hul Sauvignon Blanc 2008 17 punte gekry het, hul Inkara Cabernet Sauvignon 2006 18 punte en hul Inkara Shiraz 19 punte uit 20 het my laat verstaan hoekom daar so baie mense buite Café Maude onder die bome gesit en fuif het. As ek net tyd gehad het ...
My laaste besoek van die dag het egter gewag en ek’s terug in die rigting van Robertson. By die hoofpad is ek regs tot by Ashton Kelder waar Phillip Louw my ingewag het.
Ashton Kelder (023-615-1135) bied ‘n wye reeks pretensielose genietwyne teen uitstekende pryse. Die duurste twee wyne was hul Cabernet Sauvignon Reserve en Shiraz Reserve wat vir R60 elk verkoop. Die res verkoop vir heelwat minder.
Ashton Kelder is in 1962 gestig en lê in die vallei wat ook as die Vallei van Wyn en Rose bekend staan. Hy het 68 lede met sowat 1 400 hektaar onder wingerd en verwerk jaarliks sowat 18 000 ton druiwe.
Maar onthou, die Robertson-wynvallei gaan nie net oor wyn nie. Daar is baie meer te doen en ervaar, soos byvoorbeeld die Klaasvoogds-wildreservaat (023-626-6115) van sowat 800 hektaar teen die hange van die Langeberge wat reg langs die natuurreservaat geleë is, die Pat Bush Private Nature Reserve van sowat 2 000 hektaar, 4x4-, bergfiets- en staproetes, riviervaarte, perdry, varswaterhengel en voëlkyk, om maar net ‘n paar te noem.
Pak dus gerus maar jou tassie, versoek jou GPS-stelsel om jou die pad na die Robertson-wynvallei te wys en gaan geniet die lewe. Jy sal terug gaan. Gereeld. Belowe!
Wynwiele:
My metaalmetgesel op hierdie besoek was die Renault Clio Extreme wat met sy 1400-enjin en vyfgang-handratkas groot indruk gemaak het.
Ek het baie dekades laas motors in hierdie segment van die mark bestuur en my verwysingsraamwerk was dus maar bra verouderd. Die klein motortjies wat ek destyds getoetsbestuur het toe ek motorredakteur van Die Burger was, was ligjare verwyder van vandag se gesofistikeerde wiele.
Ek het dus met daai maaindset agter die stuur van hierdie driedeurmodelletjie ingeskuif, maar nie veel kilometer op die N1 in die rigting van die tolhek by die Paarl nie moes ek erken dis soos bokdrolle met vye vergelyk. En die klein Clio was beslis nie ‘n bokdrol nie!
Kyk, vandag se klein motortjies het alles wat vandag se groot motors het: kragstuur, lugversorging, die lot! En rygerief is ingebou.
Nou-ja, na ‘n paar dae agter die stuur van die Clio Extreme het ek besef hoe ver die motorbedryf gevorder het sedert die dae toe ek daai motorrubriek begin het, einde 1979!
Einde
© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy
Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast