Robertson-wynvallei ‘die beste, innoverende wyntoerisme-ervaring’

Date posted:
December 9, 2009

Die Robertson Wine Valley (RWV), die generiese bemarkingsliggaam wat hierdie dinamiese wynmaakstreek wat uit die dorpe Ashton, Bonnievale, McGregor en Robertson bestaan, dryf, is deur die Great Wine Capitals Global Network, waarvan Kaapstad een van agt lid-hoofstede is, aangewys as die beste, innoverende wyntoerisme-ervaring.

 

Die RWV het hierdie gesaghebbende toekenning einde November op ‘n gala-geleentheid in Bordeaux ontvang. Die geleentheid is deur toerismespesialiste, hooggeplaastes en produsente van wynstreke in Europa, Noord-Amerika, Latyns-Amerika, Suid-Afrika en Nieu Seeland bygewoon.

 

Die sitaat wat deur die Great Wine Capitals Global Network uitgereik is, lui:

 

“Die Robertson Wine Valley is ‘n nie-winsgewende organisasie wat in 1983 gestig is deur ‘n groep plaaseienaars in die streek met die doel om wyn van oorsprong, Robertson, te bevorder, asook die streek self. Huidiglik  bestaan die Robertson Wine Valley uit 56 lede (geleë in Ashton, Bonnievale, McGregor en Robertson) en speel gasheer vir vier wynfeeste regdeur die jaar wat wissel van boetiekgeleenthede, soos Robertson Slow, tot die immergewilde Wacky Wine Weekend.”

 

Elizma Spangenberg, wat onlangs die leisels by die dinamiese Bonita Malherbe oorgeneem het as bestuurder van die RWV, sê: “Ons is baie trots op hierdie vier feeste wat almal wyn as sentrale tema het, en almal omhels die diversiteit van aktiwiteite en ervarings wat aangebied word. Hierdie geleenthede het die afgelope ses jaar gegroei en ontwikkel deur die slim gebruik van marknavorsing en visionêre denke. Dit is ‘n voortdurende proses wat nou daarop gemik is om besoekers regdeur die jaar na die area te lok, wat tot dusver baie suksesvol was. In die tydskrif WINE se jongste, jaarlikse lesersopname is die Robertson-wynvallei as die tweede gewildste wynroetebestemming in die Kaapse wynlande aangewys.”

 

Die Adjunk-Burgemeester van die Wynland-distriksmunisipaliteit, Clarence Johnson, wat ook President van die Great Wine Capitals-organisasie is, sê die beoordelaars was beïndruk met die vooruitgang wat gemaak is met die gehalte van die aanbiedinge deur die lede van die Robertson-wynvallei. Hy het bygevoeg: “Ondanks die resessie het hulle min tekens gesien van kortpaaie wat gevolg word. Inteendeel, hulle het opgemerk dat daar groter pogings aangewend word om besoekers te lok in ‘n tydperk van minder besteebare inkomste. Hierdie mense pak die kredietkrisis deur beter waarde te bied, die gehalte van ervarings te verhoog, innoverend op plaaslike attraksies in die natuurlike omgewing, kos, kuns, handwerk en kultuur te fokus, en deur bykomende aandag aan detail te skenk. Die beoordelaars was ook beïndruk met die toenemende samewerking tussen mededingers en hul behoefte om met hul bure te werk om streeksbewustheid te bou.”

 

Die RWV het die ontwikkeling van wyntoerisme geïdentifiseer as een van sy kerndoelwitte en posisioneer homself deur middel van wyntoerismegeleenthede, die hoofelement in die bou van die RWV-handelsmerk, plaaslik sowel as internasionaal.

 

Die Robertson-wynvallei is slegs 90 minute van Kaapstad af op die gewilde Roete 62. Die lede van die wynroete (90% is in familiebesit) bied landelike gasvryheid en, bowenal, wyne van wêreldgehalte en ongelooflike waarde. Geleë tussen die Langeberg en die Riviersonderend-berge word die besoeker bloot gestel aan die robuuste skoonheid van die wye vallei met die rivier wat deur hom loop en ‘n landskap met paaie wat deur rose en kanna begrens en heuwels wat met wingerde bedek word.

 

Einde

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy

Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast

facebookinstagram