Die nuwe jaar is skaars uit die wegspringblokke en die eerste wyne het reeds die lig gesien! Een van die heel eerste om sy hand op te steek en alle wynliefhebbers uit te nooi om hom te proe, is Rietvallei se John B Sauvignon Blanc 2012. Dit is die eerste keer dat hierdie Robertsonse wynlandgoed so vroeg in die jaar ‘n nuwe oesjaar bekend stel en, behalwe vir ‘n buurplaas se 2012-bydrae, is dit ook die eerste van die 2012-oesjaar in Suid-Afrika.
“Ek het uit my pad gegaan dié jaar om vir ons kliënte die varsste sauvignon blanc beskikbaar te stel, vroeër as gewoonlik. Die varsheid van die wyn beklemtoon die lieflike vrugtegeure in die wyn, en dit is perfek om onmiddellik te geniet”, sê Kobus Burger, die sesde geslag-wynmaker op Rietvallei.
Die John B Sauvignon Blanc is ‘n wyn wat by enige geleentheid geniet kan word. Sy vrugtigheid, goed-gebalanseerde suur en langdurige nasmaak is almal kenmerke van hierdie wyn. Dit is perfek om saam met enige seekos en ligte etes te geniet.
Die John B Sauvignon Blanc 2012, wat R30 by die kelder kos, behoort eersdaags op die winkelrakke beskikbaar te wees, so moet dit nie miskyk by jou naaste supermark nie. Diegene wat bietjie meer ongeduldig is, kan dit by die landgoed koop of selfs ‘n bestelling plaas, Rietvallei lewer enige plek in Suid-Afrika af.
Die John B-reeks bestaan ook uit ‘n effe-soet Riesling, ‘n droë Cabernet Sauvignon Rosé en ‘n Cabernet Sauvignon/Tinta Barocca- rooi versnit. Al die wyne is geklee in ‘n stylvolle en kleurvolle verpakking met skroefdoppe.
“Mooi om na te kyk, heerlik om te proe, maklik om te gebruik en goeie waarde vir geld” is hoe Rietvallei hierdie reeks beskryf.
Vir enige navrae of om te bestel, skakel 023-626-3596, stuur ‘n epos aan info@rietvallei.co.za of besoek www.rietvallei.co.za.
Einde
© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy
Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast