Riebeek-vallei toon die Swartland op sy beste

Date posted:
October 1, 2010

Groen wingerde, goue graanlande, olyfboorde en geel kanola in ‘n golwende landskap. Dis die Swartland. Maar vir wynliefhebbers is die Swartland ook shiraz, pinotage en chenin blanc, terwyl proefnemings met skaarser kultivars soos malbec, grenaché en viognier al hoe meer vrugte afwerp in hierdie natuurskone wynstreek.

So ‘n paar jaar gelede het ek my eerste wynreisrubriek hier gedoen, in die Aprilskloof net anderkant Malmesbury waar vier jong wynmakers my beïndruk het (gaan kyk gerus op die reisblad). Tussen hulle en besoeke aan ‘n paar ander wynmakers vir rubrieke met glansmense (gaan kyk gerus op die fokusblad), het ek nie net bewus geword van die streek se lekker wyne nie, maar ook van al die eet- en blyplekke en die groot verskeidenheid olyfprodukte.

Toe Jolene Janse van Rensburg van die Santam Swartland Wyn- en Olyfroete my onlangs dus uitnooi om bietjie in die Riebeekvallei te kom kuier, het ek nie twee keer gedink nie. Die pragtige Riebeekvallei lê aan die voet van die Kasteelberg en sluit die dorpies Riebeek-Wes en Riebeek Kasteel in. My wiele vir die besoek was Daihatsu se veldbuksie, die aanvallige Terios (lees berig hieronder).

Ons besoek het anderkant Riebeek-Wes by Pulpit Rock (022-461-2025 / info@pulpitrock.co.za) afgeskop waar die Brink-familie koning kraai. Die naam verwys na die rotsformasie agter die kelder. Die liedjieboer Theuns Jordaan was my glansgas vir ‘n wynrubriek hier en hul rooi- en witwyne het hom heeltemal van soet rosé’s, sy destydse gunsteling, laat vergeet!

Soos daai dag het die wynmaker, Jaco van der Merwe, die wynproe aangebied. Ons het begin met ‘n tenkmonster van Pulpit Rock se 2010- chenin blanc en later merlot, cabernet sauvignon, shiraz en pinotage uit die vat geproe, almal van die 2009-oesjaar. Daar is ook van hul ander wyne geproe. Die 2009- Chardonnay (R28) en die 2008- Pinotage (R39) bied uitmuntende waarde vir geld, terwyl die 2008- Chardonnay, die 2005- Shiraz en die 2006- Pinotage, al drie uit hul premie-reeks, my smaakkliere aan die gons gehad het.

 Byskrif: 'n Trotse Zakkie Bester by die toekennings wat Riebeek Kelder vir hul uitmuntende Chenin Blanc gewen het. En glo my vry, dis welverdiend!

 

 

Hiervandaan is ons terug Riebeek Kasteel toe waar Zakkie “Chenin Blanc” Bester, hoofbestuurder en wynmaker, by Riebeek Kelder (022-448-1213 / info@riebeekcellars.co.za) op ons gewag het. Zakkie is uiteraard baie trots op die groot trofee wat hulle vir hul chenin blanc gewen het op die 2010-jongwynskou ... en met meer as genoeg rede.  Hul gewone Chenin Blanc 2010 (R25) en die Chenin Blanc Limited Release 2009 (R40), sowel as hul 2009- Shiraz (R30) en die Pinotage Rosé 2010 (R25,50), bied uitstekende waarde vir geld, terwyl die ander wyne beslis baie vriende sal maak.

‘n Kissie van daai rosé het vinnig sy pad na die Terios se bagasieruim gekry want so ‘n veelsydige wyntjie wat so min van jou beursie vra, is beslis ‘n moet vir my! Zakkie het ook ‘n tweeliterkannetjie van hul Mountain People in my hand gestop, maar hierdie soete met sy sterk rosyntjiegeure het ‘n stuk vleis of twee in my gietysterpot in gedagte.

Ons derde besoek van die dag sou op Allesverloren (022-461-2320 / info@allesverloren.co.za) van die Malans gewees het, maar aangesien ek reeds by vorige besoeke oortuig (en oorwin) is deur veral Danie se Shiraz, Tinta Barocca en Port (en so was oud-Springbok-kaptein Corné Krige tydens ‘n besoek aan Allesverloren vir ‘n wynrubriek), het Jolene voorgestel ons kry mekaar op die dorp vir ‘n lekker middagete. Die vyfde geslag Malan op Allesverloren het by ons aangesluit, tesame met van daai heerlike Shiraz en Allesverloren Cabernet Sauvignon. Ongelukkig moet ek dit herhaal, maar Danie kán shiraz maak. O moerbei, die man kan!

Allesverloren is die oudste wynplaas in hierdie wynstreek en dateer terug na die vroeë 18de eeu. Die eienaars het eendag glo terug gekeer plaas toe na ‘n kort reis om voorraad te koop en gevind alles is geplunder en afgebrand. Hulle het alles verloor, vandaar die naam Allesverloren!

Byskrif: Op Kloovenburg kan jy nie net rustig ontspan met 'n heerlike wyntjie in die hand nie, maar jy kan die ervaring selfs lekkerder maak met hul olyfprodukte.

 

 

Alle goeie dinge kom tot ‘n einde, ongelukkig, en my besoek aan die Riebeek-vallei het einde se kant toe gestaan. Maar voordat ek die pad terug gevat het huistoe, moes ek darem eers nog daar by Kloovenburg (022-448-1635/ info@kloovenburg.com)  aandoen. Dis naas Allesverloren glo die oudste wynplaas in die Swartland, en die Du Toit-familie swaai hier die septer. Kloovenburg is natuurlik net so bekend vir sy olyfprodukte.

Pieter du Toit, baas van die plaas, het ons te woord gestaan in die proelokaal en ek het gou-gou 9 van hul wyne op ‘n kitsbesoek aan my neus en mond geneem. As ek so na my aantekeninge kyk, sien ek dat omtrent al die wyne 7 uit 10 en beter gevaar het. Dit spreek boekdele! As ek meer plek in my ou keldertjie gehad het, het meer as net ‘n kissie van Kloovenburg se 2009- Shiraz Rosé vandag daar gepronk!

Daihatsu se veldbuksie bly verras

Ek verstaan vandag hoekom daar so baie van Daihatsu se Terios-veldbuksies (of is dit stadsbuksie?) die wêreld vol loop. Selfs in Athene, Istanbul en Kaïro het ek op ‘n onlangse reis hordes van hulle gesien.

Byskrif: Daihatsu se veld/stadsbuksie pronk voor Pulpit Rock se kelder, proelokaal en restaurant.

 

Die tweewielaangedrewe model was my wielevennoot op die besoek aan die Riebeek-vallei nadat ek reeds vantevore die vierwielaangedrewe veldbuksie onder hande gehad het. Selfs Jolene moes erken dat dit ‘n mooi voertuig is ... en dat haar nuuskierigheid en belangstelling geprikkel is!

Die viersilnderenjin van 1 495 cc lewer ‘n heel goeie 77 kW @ 6 000 r/min, hoewel die wringkrag van 140 N.m @ 4 400 r/min sy status as ‘n “sagte” veldbuksie onderstreep. Werkverrigting is meer as voldoende. Die Terios probeer nie iets wees wat hy nie is nie, maar dit wat hy doen, doen hy goed. Hoewel die wringkrag hom duidelik nie ‘n bedreiging vir ‘n trekker maak nie, is dit voldoende vir die rol wat die Terios bedoel is om te vertolk.

Dié veldbuksie is gerieflik, goed aanmekaar gesit en bied ‘n goeie alternatief vir mense wat ietsie meer as ‘n stadskarretjie soek. Op die oop pad skiet die vyfgang-handratkas, na my beskeie mening, effe te kort. Hoewel skakeling seepglad is, voel dit maar steeds vir my dat daar ‘n bykomende rat kort bo 100 km/h.

Kortom, die Daihatsu Terios was ‘n ruk lank op my kortlys van veeldoelvoertuie om my bakkie te vervang, maar ek het op die ou einde op ietsie groter besluit.

Einde

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy

Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast

facebookinstagram