Riebeek-kelder ondersoek alternatiewe opleistelsel vir wingerd

Date posted:
February 29, 2012

Met insetkoste wat voortdurend styg en wynpryse wat nie daarmee tred hou nie, verkeer Suid-Afrikaanse wyndruifprodusente in die algemeen onder baie druk. Daar word dus ernstig gekyk na nuwe maniere om winsgewendheid te verhoog.

 

Een van die instellings wat deurlopend hierna kyk, is Riebeek-kelder in die prentjiemooi Riebeek-vallei.

 

“Dit is van die grootste belang dat ons voortdurend navorsing doen, onder meer oor hoe om winsgewendheid te verhoog,” verduidelik Hanno van Schalkwyk, Riebeek-kelder se wingerdboukundige. “Een van die inisiatiewe om beter winsgewendheidsvlakke vir ons produsente te verseker, is om proewe met alternatiewe prieelstelsels, oftewel opleistelsels, te doen. 

 

“Die sogenaamde Smart-Dyson-stelsel toon baie potensiaal om beter oeste teen dieselfde hoë gehalte te lewer. Anders as die gewone heiningprieel waar die lote slegs boontoe geposisioneer word, verseker die Smart-Dyson-stelsel dat die lote opwaarts en afwaarts geposisioneer word om ‘n groter ‘fabriek’ of produksie-area te vorm.”

 

Hanno sê die voordeel van die stelsel is dat die stokke van nature goed deurlig is wat verseker dat die blare optimaal kan werk, en die groter lowerdekking kan ook meer druiwe tot hul volle geurpotensiaal rypmaak.

 

“Daar is tans sowat 20 hektaar wingerd wat reeds van die nuwe stelsel gebruik maak, hoofsaaklik onder chenin blanc en sauvignon blanc, en ons kyk tans om dit ook uit te brei na pinotage en colombar. Die meeste wingerde is tans op die plaas Modderasvlei in die Riebeek-Wes-omgewing.

 

“Waar ons byvoorbeeld normaalweg 15 ton/ha chenin blanc gepars het, verwag ons 30 % meer met die Smart-Dyson-stelsel … teen dieselfde hoë gehalte. Die rede daarvoor is eenvoudig: die ‘fabriek’ of produksie-area van die wingerdstok, naamlik die blaaroppervlak, word vergroot wat die groter oes net so goed kan rypmaak.”

 

Vir enige navrae of meer inligting, kontak gerus vir Alta Saayman by 022-448-1213 of stuur ‘n epos aan alta@riebeekcellars.co.za.

 

Einde

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy

Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast

facebookinstagram