Durbanville Hills se beperkte Rhinofields Shiraz 2008 het ’n goue medalje los geslaan op vanjaar se Syrah du Monde in Frankryk en in die proses derde algeheel geëindig. Dit was ook die beste vertoning van ’n Suid-Afrikaanse shiraz op hierdie internasionale kompetisie waarvoor meer as 380 wyne uit 24 lande ingeskryf is. Durbanville Hills was een van slegs 34 inskrywings wat met goud bekroon is.
Volgens Wilhelm Coetzee, die rooiwynmaker, het die 2008- Rhinofields Shiraz vir sowel die kelder as die koel Durbanville-wyk eer gebring en trots gemaak deur skouer te skuur met van die wêreld se beste syrah- en shiraz-wyne.
“Toe ons hierdie beperkte wyn geskep het, het ons na ’n spesifieke styl gemik en uitsonderlike druiwe met ’n klassieke, peperige profiel gekies wat die kompleksiteit van hierdie kultivar vasvang en aan die klassieke shiraz-style van die middel en noordelike Rhône-area herrinner.
“Ons het die beste Franse eikehout met ’n ekstra ferm grein gekies om die wyn vir 18 maande in te verouder en toe die wyn uit die beste vate gekies vir die finale versnit.”
Die Rhinofields Shiraz 2008 bied aromas van soet, ryp vrugte en pruime, gekombineer met wit peper en neutmuskaat in die neus. Dit vul die mond met sy volrondheid en sagte tekstuur, asook met geure van ryp, rooi vrugte wat tot sagte tanniene en eikegeure lei.
Die speseryagtige smaak maak hierdie wyn die ideale pasmaat vir robuuste disse soos voëlwild-, wilds- en rooivleisgeregte.
Durbanville Hills is lid van die Biodiversiteit- en Wyninisiatief (BWI) en het sy reserwereeks Rhinofields-wyne vernoem na die bedreigde renosterveld om bewustheid daarvan te verhoog. Hierbenewens word 210 hektaar renosterveld op ledeplase beskerm.
Die 2008 Rhinofields Shiraz is net by die kelder beskikbaar teen R119 per bottel.
Einde
© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy
Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast