Revenant Red blaas nuwe lewe in klassieke Suid-Afrikaanse wyn

Baie van die tydlose Stellenbosse cabernet sauvignons van die 50s, 60s en 70s het ’n geheime bestanddeel gedeel. Cinsault is in hierdie wyne versteek, sonder enige vermelding op die etiket, en het die elegansie en parfuumgeure aan dié klassieke Kaapse wyne verleen. Ongelukkig is hierdie edel rooi kultivar later deur meer “bombastiese” kultivars vervang.

Tot nou! False Bay Vineyards se Revenant Red 2017 vier die glorieryke hergeboorte van ’n klassieke Suid-Afrikaanse wyn. Oorvloedige rooi vrugtegeure soos rooi en blou bessies ontsnap uit die glas en die wyn toon ook skeutjies parfuum en donker sjokolade. Dit is sag en elegant op die tong en behou ’n oneindige balans tot op die einde.

“Stellenbosch is bekend vir sy cabernet sauvignon. Wat meeste mense egter nie weet nie, is dat cinsault vir baie jare ’n groot rol gespeel het in bekende Suid-Afrikaanse cabernet sauvignon-gebaseerde rooi versnitte,” sê die wynmaker Nadia Barnard-Langenegger. “Hierdie elegante wyne het ons geïnspireer om ’n nuwe weergawe van die ‘oorspronklike’ cabernet sauvignon te maak.”

Die cinsault-druiwe vir die Revenant Red is afkomstig uit ’n bosstok-blok wat tussen 35 en 40 jaar oud is. Dit lê ongeveer agt kilometer van die see en lewer baie lae opbrengste, deels oor sy ouderdom en deels omdat dit nie besproei word nie. Die cabernet sauvignon-wingerde kyk ook oor Valsbaai en is tussen 10 en 15 jaar oud. Verskeie blokke is gebruik – sommige ongeveer 250m bo seevlak en ander heelwat laer af.

Die twee komponente is nege maande lank afsonderlik verouder, die cinsault in ouer vate van 600 liter en die cabernet sauvignon in vate van 225 liter. Geen nuwe houtvate is gebruik nie. Die komponente is toe oorgepomp na ouer vate van 600 liter en vir nog ’n jaar verouder voor dit gebottel is. Die wyne het net basiese filtrering voor bottelering ontvang.

Die resultaat is ’n versnit van 80% cabernet sauvignon en 20% cinsault wat die pragtige, komplekse vrugte van die koeler Helderberg-streek vertoon, maar ook die mond koester met ’n sagte en geïntegreerde tannien-profiel.

Die Revenant Red is voorafgegaan deur ’n wit versnit van sauvignon blanc en chenin blanc. Dit is op die tradisionele metode gemaak, met spontane wilde gisting en toe sagkens verfyn met minimum inmenging.

Die Revenant Red 2017 is by Waterkloof beskikbaar teen R100 per bottel, asook landwyd in top restaurante.

Vir meer inligting oor Waterkloof en sy wyne, besoek www.waterkloofwines.co.za.

EINDE

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

You may use these HTML tags and attributes:

<a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <s> <strike> <strong>