Retief Reserve Cape Blend 2016 –  Meer as net nóg ’n Rooiwyn

Van Loveren se Retief Reserve Cape Blend 2016 is wyn wat 80 jaar se ondervinding en drie geslagte wynmakers in die Robertson-streek huldig – ’n feit wat op die etiket uitgebeeld word. Dis ook een van daardie kelderskatte wat in enige wyn-entoesias se versameling hoort.

Dié versnit se etiket bevat historiese kenmerke van groot betekenis vir die Retief-familie, die eienaars van Van Loveren Family Vineyards. Daar is die Retief-familiewapen wat in 1980 die eerste keer op ’n etiket van die handelsmerk gebruik is, die datum 1937 wat na die aankoop van die plaas verwys, en die helderrooi kannas wat Nico Retief geplant het om Van Loveren se wingerde te laat uitstaan en vandag steeds as ’n baken vir die landgoed dien.

In die middel negentigs het Hennie, Bussell, Phillip en Neil Retief – algemeen bekend as die Four Cousins – by die familiebesigheid aangesluit en dit begin uitbou tot een van Suid-Afrika se voorste wynkelders in familiebesit. Die vier neefs bestuur die maatskappy vandag steeds saam.

Die Retief Reserve Cape Blend 2016 is ’n versnit van 37% pinotage, 37% cabernet sauvignon en 26% shiraz wat vir 12 maande in eikehoutvate verouder is. Die wyn vertoon sagte aromas van rooibessievrugte wat in die mond verryk word deur geure van gedroogde vye en vanielje, sagte tanniene, sappige pruime en swartbessievrugte, aldus Bussell Retief, die keldermeester. Dit het ’n sysagte donkersjokoladesmaak wat in die mond talm.

Die Retief Reserve Cape Blend 2016 is ’n elegante wyn wat perfek op sy eie geniet kan word of saam met ’n winterbredie of sappige ribfillet. Dis landwyd by die meeste spesialis-wynwinkels beskikbaar, asook by Checkers en Ultra Liquors, en kos sowat R120 per bottel.

Besoek www.vanloveren.co.za vir meer inligting.

EINDE

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

You may use these HTML tags and attributes:

<a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <s> <strike> <strong>