Registreer nou vir belangrike wyntoerisme-konferensie

Kaartjies vir die jaarlikse The Business of Wine & Food Tourism-konferensie verkoop soos soetkoek. Die konferensie, nou in sy derde jaar, word op 17 Oktober op die Spier-wynlandgoed buite Stellenbosch aangebied en die indrukwekkende paneel plaaslike en internasionale sprekers sal die tema van innovasie aanspreek.

 

“Die Wes-Kaap het ’n besliste voordeel in Suid-Afrika. Dit het nie net asemrowende see- en berg-uitsigte nie, maar sy lewendige kulinêre en sosiale landskap vier en weerspieël elke dag

sy baie spesiale omgewing,” sê die gesoute toerisme-spesialis, Margi Biggs, die sameroeper van die konferensie.

 

“Die wyn- en kostoneel hier in die Kaap, tesame met sy interessante kombinasie mense wat inwoners en toeriste van alle vlakke van die samelewing insluit, bied ’n baie gesonde omgewing vir die uitbou van toerisme, en nou is die ideale tyd om die tema van innovasie te ondersoek en verken, asook sy uiteenlopende fasette en impakpunte. Ons moedig almal in die bedryf aan om die konferensie by te woon.

 

“Die afgevaardigdes sal hoor van die Suid-Afrikaanse innovasieleier, Peter Greenwall, wat aktief daaraan werk om ‘innovasie-IK’ te bevorder. Hy is ’n suksesvolle skrywer en entrepreneur, ’n natuurlike opvoeder met ’n ongelooflike vermoë om tussen snert en onbenullighede deur te navigeer om die helder oomblikke in kreatiwiteit te skep.”

 

Greenwall verduidelik: “Ek sal diegene wat die konferensie bywoon, leer hoe om ’n kultuur van innovasie te skep wat alle aspekte van hul toerimeverwante besighede binnedring, en die vyf stadiums bespreek waarna ons verwys as die ‘innovasiesiklus’. Hierbenewens sal ek ook onderwerpe aanraak soos hoe om die beste uit verandering te haal en hoe om die vrees vir die onbekende in ’n positiewe dryfkrag om te skep om sodoende volhoubare innovasie en kreatiwiteit te bewerkstellig. Ek sal ook verduidelik hoe om uit mislukkings en foute te leer, asook hoe om sosiale media ten volle te benut.”

 

Die Amerika-gebaseerde wynspesialis, Cathy Huyghe, is vanjaar die hoofspreker. Dis haar eerste besoek aan Suid-Afrika. Huyghe is ook ’n wynskrywer vir Forbes en het ook al vir die Harvard Business Review geskryf. Sy is mede-stigter en HUB van Enolytics LLC en konsulteer wêreldwyd oor sogenaamde “groot data” met wynmaatskappye, is ook ’n mediaspesialis en het reeds wynboeke geskryf.

 

Ander sprekers op vanjaar se konferensie sluit die aanlyn-storieverteller, Chris Joubert, en Spicer de Villiers van die kommunikasie-agentskap A Single Thread in, asook dr Donovan Kirkwood, ’n ekoloog en spesialis in biodiversiteitsbewaring, en die sjef Kobus van der Merwe wat langs die Weskus ’n unieke eet-ervaring geskep het met bestanddele uit die omgewing.

 

Ook op die program is dr Serge Raemaekers, ’n spesialis in mariene biologie wat ’n unieke waardeketting ontwikkel het wat vars vis na Kaapstad se top restaurante bring, Tim Harris, hoof- uitvoerende beampte van Wesgro wat ook op die direksie van Silicon Cape dien, en Marisah Nieuwoudt, die wyntoerismebestuurder van VinPro, die organisasie wat sowat 3 500 Suid-Afrikaanse wynprodusente en aandeelhouers verteenwoordig.

 

Gaan na http://wineandfood.co.za/programme-2018/ om die volledige program te sien en meer uit te vind oor die sprekers.

 

Alle mense in die Kaap se wyn-, kos- en toerismebedrywe word aangeraai om vroeg te registreer vir die konferensie. Vroeë registrasie kos R2 950 (BTW uitgesluit) per afgevaardigde en eindig op 30 Junie. Daarna kos dit R4 400 (BTW uitgesluit) per person. Studente betaal net R1 750 (BTW uitgesluit). ’n Spesiale afslag is beskikbaar vir SAACI-, SATSA-, SITE- en Kaapstad Toerisme-lede.

 

Vir meer inligting oor die konferensie of om aanlyn te registreer, besoek www.wineandfood.co.za.

EINDE

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

You may use these HTML tags and attributes:

<a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <s> <strike> <strong>