Raats se cabernet francs hoog aangeskryf deur Decanter

Buite die Loire in Frankryk moet cabernet franc dikwels tweede viool speel teenoor cabernet sauvignon, maar hierdie ligte, vars en sappige druif bewys sy veelsydigheid al hoe meer in uitmuntende wyne van sover as Argentinië en Suid-Afrika.

Cabernet franc het lank gelede reeds vir homself naam gemaak in die wyne van Frankryk se Loire-vallei in handelsmerke soos Chinon, Bourgueuil, Saumur, Champigny en Anjou Rouge. Meer onlangs het hierdie kultivar ook in wyne van uitmuntende gehalte voorgekom uit streke soos Mendoza en Stellenbosch.

Hierdie rooi kultivar het sagte tanniene, matige suur en tonne sjarme en finesse, en kombineer helder framboosgeure met intense blomme-aromas en ’n fluweelagtige tekstuur wat aan pinot noir herrinner. Die kultivar kan egter ook komplekse en gestruktureerde wyne voortbring wat, anders as cabernet sauvignon, jonk en sonder veel of selfs enige houtbehandeling geniet kan word.

Sommige wyne kan jou die hand diep in die sak laat steek, maar baie kan teen baie bekostigbare ryse gevind word.

Die bekende en gesaghebbende tydskrif Decanter het pas sy lys van 10 uitmuntende cabernet francs bekend gemaak … en Raats Family Wines tel onder hulle! Die lys bestaan nie net uit enkelkultivarwyne nie, maar bevat ook versnitte waarin cabernet franc die hoofrol vertolk.

“Suid-Afrika is vandag ’n broeikas as dit kom by sowel enkelkultivarwyne van cabernet franc as vesnitte waarin die kultivar die grootste komponent is,” sê die tydskrif, “met talle wyne van puik gehalte van produsente soos Vergelegen, Warwick en Raats.”

Raats Family Vineyards se MR de Compostella 2017 (’n versnit van 43% cabernet franc, 30% cabernet sauvignon, 11% merlot, 10% malbec en 6% petit verdot) het 95 punte uit ’n moontlike 100 aangeteken om die lys van tien wyne te haal.

“Hoewel klassiek in sowel die neus as die mond is hierdie steeds ’n lewendige, jeugdige wyn met veel meer om nog te bied,” besing Decater die Mr de Compostella. “Die wyn is lywig en gekonsentreerd in die mond met lewendige geure van donker vrugte. Met sy vars suur, goed geïntegreerde eikehout en fyn tannienstruktuur sal hierdie wyn goed verouder. Dit is verfyn en kompleks.”

Decanter beskou die wyn se “drinkvenster” tussen 2022 en 2030.

In ’n afsonderlike proe van Decanter het die Raats Cabernet Franc 2015 96/100 aangeteken.

Die tydskrif beskryf die wyn as volg: “’n Wonderlike enkelkultivarwyn wat nie net ’n uitstekende uitdrukking van die druif in Suid-Afrika is nie, maar ook die vaardigheid onderstreep van die bekroonde wynmaker, Bruwer Raats, wat reeds sedert 2000 in hierdie kultivar en chenin blanc spesialiseer en ’n vlagdraer vir albei is.

“Die 2015-weergawe het ’n fluweelsagte tekstuur met goed geïntegreerde en ferm tanniene en ’n pragtige suur wat tot die wyn se puik balans lei. Dis moeilik om dit nie nou reeds te wil geniet nie, maar die wyn sal beslis goed verouder … as jy geduldig kan wees.”

Die wyn se “drinkvenster” is tussen 2019 en 2028.

EINDE

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

You may use these HTML tags and attributes:

<a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <s> <strike> <strong>