PROE @ Diemersfontein: ’n Luilekker kuier met kos en wyn

Ons hier aan die suidpunt van Afrika is darem kwaai bederf met die groot verskeidenheid aanbiedings in die Kaap se wynlande, om nie eers te praat van hoe uiteenlopend hulle is nie. Wyne te kies en te keur, en so ook verblyf, eetplekke en aktiwiteite.

En so gepraat van eetplekke op wynplase en by wynmakerye, met die kompetisie wat so straf is, moet restaurante uithaal en wys. Aanhoudend. Soos ’n bekende Franse sjef, wat reeds drie Michelin-sterre agter sy naam het, geantwoord het op die vraag: Hoe kry jy dit reg om jou standaarde so hoog te hou? “Deur nooit tevrede te wees nie,” het hy gesê, “want die oomblik dat jy tevrede is, begin jy agteruit te gaan.”

Die gesellige proelokaal/restaurant.

Soos reeds genoem, is die getal en uiteenlopenheid van die eetplekke by wynprodusente iets om op trots te wees. Van heerlike, heilsame kos tot disse wat fynproewers swak in die knieë maak. Mens kan letterlik vir ’n hele paar jaar elke maand by ’n verskillende een eet.

’n Onlangse besoek aan Diemersfontein buite Wellington – om meer te wete te kom van hul swart ekonomiese bemagtigingsprojek, Thokozani –  het geëindig met middagete op die stoep by PROE @ Diemersfontein. PROE is tegelyk die landgoed se proelokaal en eetplek.

PROE spog met ’n verskeidenheid kase, kouevleise, konfyte, olywe, vars brood en veel meer. Johan Olivier vertel met trots dat 95% van die produkte wat hulle hier te ete aanbied, plaaslik voorsien word.

En die proses werk eenvoudig. Jy kry ’n mandjie en plaas daarin wat jy vir middagete wil geniet, van heerlike vars brood tot kouevleise en kaas, en van olywe tot konfyt. Dan handig jy jou mandjie in, gaan sit by jou tafel (binne of buite op die stoep) en wag dat die bederf op ’n groot houtbord voor jou neergesit word.

Johann Olivier sorg dat alles seepglad verloop in PROE. Hier is ook heelwat lekkernye om saam te vat huistoe.

Normaalweg sal mens natuurlik eers al Diemersfontein en/of Thokozani se wyne proe en jou keuse daar maak voordat die kos gekies word, maar aangesien ons die dag daar was vir die Thokozani-artikel en ek reeds Thokozani se twee rooiwyne in oënskou geneem het, by wyse van spreke, het ek op die SMV 2019 besluit, ’n versnit van shiraz, mourvèdre en viognier. Die ander een is ’n Cabernet Franc.

Toe het ons al kwylend gekies uit die verskeidenheid eetgoed, die mandjie oorhandig en op die stoep stelling ingeneem. Lang storie kort, dit was ’n fees!

As jy nog nie ge-PROE het nie, doen jouself ’n guns en gaan span so bietjie daar uit. Om te bespreek, skakel 021 864 5050 of stuur ’n epos aan tastingroom@diemersfontein.co.za.

Tjorts!

EINDE

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

You may use these HTML tags and attributes:

<a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <s> <strike> <strong>