Probeer die nuwe Durbanville Hills Pinotage koud

Date posted:
March 15, 2010

Soek jy ’n meer interessante wyn om met nagereg te bedien? Wel, Durbanville Hills se keldermeester, Martin Moore, stel voor jy bedien sy onlangs bekend gestelde Durbanville Hills Pinotage 2008 koud. Moore, ’n meester in die kombuis en bekend vir sy skeppende kookkuns, sê koue pinotage wat met nagereg soos gebakte peer, aarbeie of gemengde bessiedisse voorgesit word, is ’n buitengewone smaaksensasie.

 

Die wyn is vir 12 maande in klein eikehoutvaatjies verouder. ‘n Mengsel van nuwe en tweedevul- Franse vate is gebruik wat aromas van speserye, steranys en ‘n sweempie marmelade in die neus tot gevolg het. Die mond word gevul met ryp bessies en kersies wat dit die ideale pasmaat vir vrugtige nageregte maak.

 

“Pinotage is so veelsydig soos die geselskap wat jy aan jou eettafel verkies en hierdie wyn is ook ’n puik pasmaat vir speseryagtige Suid-Afrikaanse geregte soos bobotie en gebraaide vleis.”

 

Die Durbanville Hills Pinotage 2008 sal na verwagting in die voetspore van die 2006- en 2007-oesjare, wat goud op die 2009- Michelangelo International Wine Awards gewen het, volg. Die koelklimaatligging van Durbanville Hills, wat oor Tafelbaai kyk, in die Tygerberg bied ideale groeitoestande vir hierdie unieke Suid-Afrikaanse kultivar, ’n kruising van pinot noir en cinsaut, ook bekend as hermitage.

 

Moore sê die pinot noir-eienskappe van hierdie wyn is tipies van koelerklimaat-pinotage wat die wyn onderskei as uitsonderlik in gehalte.

 

“Ons koelklimaatligging bied die ideale toestande vir gekonsentreerde maar elegante geure. Die suidooster wat in die somer vanuit Valsbaai oor die Kaapse Vlakte waai, meestal in die middag, bring koel, vogtige lug. Die wind is verbasend koud soos dit oor die kontoere van die heuwels waai en koel die wingerde af, selfs op die warmste dae. En wanneer die suidooster nie waai nie, bring ’n westewind vanuit die rigting van die Atlantiese Oseaan dieselfde verligting.”

 

Die Durbanville Hills Pinotage 2008 sal na verwagting sowat R56 per 750ml-bottel kos.

 

Einde

 

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy

Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast

facebookinstagram