Port-styl Wyne: Ontdek die Verskeidenheid en Veelsydigheid

“Port, like the rising sun, possession gains,

And drives the mist of dullness from the brains,

The gloomy vapour from the spirit flies,

And views of gaiety and gladness rise.” – Onbekend. 

Portwyne is nie net tot die koue maande beperk nie! Inteendeel, dis “gebottelde poësie” wat regdeur die jaar geniet kan word – enige plek, enige tyd, enige rede.

Vir baie wynliefhebbers is die idee van ’n port-styl wyn effens intimiderend – die verskillende style, verskillende name, die donker bottels, verskeie sosiale geleenthede, die mite dat port-styl wyne slegs gepas is vir die ouer geslag, verwarring oor watter tipe glas om te gebruik (net nie die klein sjerrieglas nie!) en uiteindelik, die unieke en vreemde kultivars wat gebruik word. Grotendeels, soos meeste ander dinge in die lewe, is dit waarskynlik die vrees vir die onbekende wat mense, veral die jonger geslag, verhoed om port-styl wyne te drink en te geniet. ‘n Port-styl wyn (of ’n portwyn) is gesofistikeerd, elegant en uitsonderlik kompleks, sowel as ’n kunstig ontwerpte produk wat waardeer moet word en toeganklik is vir almal.

Die antwoord lê in die behoud van tradisies, maar ook in die eksperimentering met style en verskillende geleenthede om hierdie wyne te geniet. As jy nie portwyne ken nie, koop vir jouself ’n bottel – proe, leer, ervaar en vertel jou vriende daarvan. As die afgelope jaar ons enigiets geleer het, is dit dat die lewe kort is en samesyn goud werd is. Portwyne omhels en vier hierdie hunkering om saam te wees, saam te vier, saam kos te maak, en net mekaar se geselskap te geniet. Voeg dit by jou stadig-geroosterde lamsboud, maak ‘n heerlike mengeldrankie daarmee as jy jou vriende onthaal, bedien dit met ‘n kaasbord of heerlike sjokolade – dit is die veelsydigheid van ’n port-styl wyn wat regtig verras en bederf.

Wanneer na portwyne gekyk word, dink ’n mens dadelik aan die De Krans Premium Cape Ruby as dit kom by kook. Hierdie is een van die tradisionele portwyne en het sy naam te danke aan sy helder robynkleur. Dit is ’n nie-oesjaar-portwyn, wat beteken dat komponente van verskillende oesjare versny word om ’n heerlik afgeronde portwyn te skep. Dit is ’n sagte en gestruktureerde portwyn met fluweelsagte tanniene en geure van ryp pruime, blou- en rooibessies, met sweempies kaneelspeserye en viooltjies. Voeg gerus genoeg van De Krans se Premium Cape Ruby by jou potjiekos of enige vleisgereg in ’n prutpot en moenie vergeet om vir jouself ’n glasie te skink nie! Die vleisgereg sal ’n heel nuwe dimensie aanneem.  Die Cape Ruby pas ook goed by tradisionele Kaapse bobotie, waterblommetjie-bredie, pastas en heerlike ertjie of bruin-uiesop.

As jy op soek is na ’n portwyn om te geniet op sy eie of saam met nagereg of kaas kan jy nie verkeerd gaan met die De Krans Cape Vintage, wat uitstekend pas by ’n gebakte nagereg soos sjokolade-fondant, donker sjokolade of goed verouderde kase. Oesjaar-portwyne pas ook goed by Karoo-lamspotjie, wildsvleispastei of geroosterde groentelasagne. Dié wyn het ’n diep persrooi kleur, ’n aanduiding van sy intense, vol en ryk smaak van rooi vrugte, gedroogde pruimedante, kakao en speserye. Die tanniene is meer prominent in hierdie portwyn wat gemaak word om in die bottel te verouder. Dit kan egter ook “jonk” geniet word. Die Cape Vintage kan sowat 20 jaar in die bottel verouder op voorwaarde dat dit korrek geberg word. Dit is ’n uitmuntende portwyn wat puik gehalte en waarde vir geld bied.

Van al die verskillende portwyne is De Krans se Cape Tawny Limited Release waarskynlik die mees unieke styl. Hierdie wyn kry sy naam van sy koperbruin kleur wat dit verkry vanweë die ongeveer agt jaar wat dit in houtvate deurbring. As gevolg van hierdie ouderdom en stadige oksidasie is die tanniene sag en het die vrugtegeure ontwikkel in neutagtige, toffie- en karamelgeure. Die Cape Tawny is ’n uitstekende alternatief vir sjerrie en is op sy beste as dit effe verkoel bedien word. Dit pas baie goed by gebakte winterpoedings soos malvapoeding en crème brûlée, sowel as by varklende gestop met gedroogte vrugte, of garnale voorberei in ‘n ligte maleisiese styl, en gebakte kaas met heuning, neute en roosmaryn daaroor.

De Krans se Cape Vintage Reserve is die “crème de la crème” van port-styl wyne en is ook die vlagskip portwyn van De Krans. Soos die Cape Vintage word dit gemaak van ’n enkele oesjaar se opbrengs, maar net die heel beste druiwe word gebruik, en daarna word net die heel beste komponente versny in ‘n stukvat om hierdie trots van die keldermeester te skep. Hierdie wyn het ’n aromatiese geur vol ryp bessies en kersies, gestoofde pruimedante en donker sjokolade. Dit het ’n donker, byna pikswart kleur met ’n pruimrooi rand. Om hierdie wyn ten volle te ervaar, geniet dit op sy eie by die kaggelvuur of saam met verouderde kase en groen vye. Die Cape Vintage Reserve is ook die ideale geskenk vir spesiale geleenthede en spesiale mense, en kan meer as 40 jaar in die bottel verouder indien korrek geberg (in gunstige temperatuurstoestande en die bottel horisontaal).

Laastens, het portwyne ook hul regmatige plek ingeneem as heerlike en innoverende mengeldrankies. Met hierdie idee in gedagte het De Krans reeds in 2008 die eerste Pink-portwyn in Suid-Afrika bekend gestel, en hierdie nuwe styl het vining baie gewild geword. Soos die naam aandui, het dit ‘n pragtige pienk kleur wat verkry word deur die sap vroeg in die produksieproses van die doppe te verwyder. Dit is in ‘n effe droër styl as ander portwyne, asook effe laer in alkohol (sowat 16%), en bied vars bessiegeure en geure van spookasem en aarbeie. Die De Krans Original Cape Pink is uitstekend op sy eie, maar werk goed saam met sodawater of lemonade en kruisementblare, of meng dit met gemmerbier, bitterwyn (“bitters”) en ’n skeut jenewer. Die opsies hier is byna eindeloos en daar is eintlik geen verkeerde antwoord nie. Eksperimenteer en vind die mengeldrankie wat jou tone sal laat omkrul van pure lekkerte!

Nog ’n goeie voorbeeld van ’n genotvolle mengeldrankie is ‘n Espresso martini. Terwyl die De Krans Original Espresso streng gesproke nie erken word as ’n port-styl wyn nie, word dit van twee Portugese kultivars gemaak, naamlik Tinta Barocca en Touriga Nacional. Dit tel onder De Krans se dessertwyne en het geure van koffie, sjokolade en speserye danksy die swaar geroosterde eikehoutvate waarin dit verouder het. Maak lag-lag jou eie Espresso martini deur drie dele Espresso, een deel koue espresso (koffie) en een deel vodka, saam te meng. Skud dit goed, en skink dit in ‘n elegante martini-glas, en versier met ‘n paar koffie bone. Vir ekstra bederf, meng gerus ‘n bietjie room by vir ‘n gewaarborgde treffer!

Aanbevole kleinhandelpryse:

Premium Cape Ruby (R95), Original Cape Pink (R95), Cape Vintage (R125), Original Espresso 375ml (R95), Cape Tawny Limited Release (R259), Cape Vintage Reserve (R375)

Bogenoemde portwyne is by die meeste drankwinkels in Suid-Afrika beskikbaar, asook by die kelder self. Vir meer inligting oor De Krans se reeks port- en tafelwyne, of om aanlyn te bestel, besoek www.dekrans.co.za.

EINDE

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

You may use these HTML tags and attributes:

<a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <s> <strike> <strong>