Allesverloren is die oudste wynlandgoed in die Swartland-distrik en alombekend vir sy puik port- en rooiwyne. Hierdie prominente familieplaas teen die hange van Riebeek-Wes se Kasteelberg se ryk geskiedenis dateer terug na ongeveer 1690 toe Goewerneur Willem Adriaan van der Stel dit aan ‘n sekere weduwee Cloete toegeken het. Die dapper vrou was een van die eerste setlaars wat die durf en moed gehad het om na die onherbergsame Swartland-gebied te trek. Hulle moes lang, veeleisende trekke op waens langs primitiewe paaie na Stellenbosch onderneem om gereedskap en lewensmiddele aan te koop. Met hul terugkeer van só ‘n reis in 1704 het die setlaars op hul geplunderde plaas, waarvan die opstal tot op die grond afgebrand is, afgekom. Vandaar die naam “Allesverloren.”
Die ironie is egter dat Allesverloren sedert sy formele registrasie in 1704 ongewoon gelukkig is, veral as mens sy ietwat ongelukkige naam in ag neem. Geskrifte toon dat Allesverloren se eienaars reeds teen 1806 die landgoed se eerste Port gemaak het.
Die Malan-erfenis het sy ontstaan in 1872 gehad toe Daniël Francois Malan die plaas gekoop het. Die landgoed is sedertdien die eiendom van die trotse Malan-familie en is tans in die bekwame hande van sy passievolle eienaar en wynmaker, Danie Malan – die vyfde geslag op dié plaas. Danie se trots is sy rooiwyn en portwynsoorte, en een van vele hoogtepunte gedurende die afgelope dekade was in 1998 toe hy as die Diners Club Wynmaker van die Jaar bekroon is vir sy 1996 Allesverloren Shiraz.
Die Malans se slag vir die maak van uitmuntende Port word reeds sedert 1956 besing nadat Danie se oupa die Generaal Smuts-trofee by die SA Jongwynskou vir twee agtereenvolgende jare, 1956 en 1957, verower het. Danie Malan het ook in 2000 die Peter Schultz-toekenning vir voortreflikheid in die maak van Port met sy 1993 Allesverloren Port ingepalm.
“Die grootste kwaliteitsverbetering het tussen 1947 en 1964 plaasgevind toe my oupa saam met Prof. A.I. Peroldt eksperimentele blokke Port-kultivars op kommersiële groottes aangeplant het. My oupa het destyds nog Port vir KWV gemaak, en dit was my pa, Fanie Malan, wat in 1974 Allesverloren Port onder ons eie etiket die lig laat sien het,” vertel Danie wat in 1990 amptelik die leisels oorgeneem het as wynmaker op Allesverloren.
Danie se pa het tinta barocca en touriga naçional aangeplant vir die uitsluitlike doel om Port te maak. Na jare se produksie van Port het ervaring en eksperimentering met die kultivars die produksie van ’n gesogte tinta barocca- en touriga naçional-tafelwyn die lig laat sien. Allesverloren-wyne, wat ook cabernet sauvignon en shiraz insluit, word gereeld geprys vir hulle verouderingspotensiaal en word in topklas-restaurante landwyd bedien.
Allesverloren se unieke ‘terroir’ – met wingerde se hoogtes bo seevlak wat tussen 171m en 370m wissel – sorg vir volronde, kragtige rooi en gefortifiseerde wyne propvol vrugtegeure. Die wynlandgoed se tradisionele, ouwêreldse wynmaakmetodes verseker robuuste rooiwyne met ‘n oorvloed tanniene vir tydsame veroudering, kenmerkend aan wyne van hoogstaande gehalte.
Einde
© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy
Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast