Pongrácz, Suid-Afrika se toonaangewende Cap Classique, het vir die tweede agtereenvolgende jaar getriomfeer by die tydskrif WINE se Amorim Cork Cap Classique-uitdaging deur vanjaar as die wenner van die Beste Nie-oesjaar-titel uit die stryd te tree.
“Dit gaan alles oor die volgehoue handhawing van die styl van die vonkelwyn soos bepaal deur die druiwe en die wingerde wat die balans tussen pinot noir en chardonnay verseker. Dan is daar die gevestigde maniere hoe ons die versnit bymekaar sit. Die veroudering in die bottel met die tyd wat die wyn op die moer deurbring, is ook baie belangrik vir die styl van die vonkelwyn,” verduidelik die wynmaker, Elunda Basson.
Vanjaar se Cap Classique-uitdaging was die grootste ooit met ‘n rekordgetal van 77 inskrywings wat erkenning verleen aan die merkwaardige groei wat hierdie wynkategorie oor die afgelope paar jaar gehad het.
Pongrácz, ‘n elegante versnit van chardonnay en pinot noir, is ‘n gepaste nalatenskap van Desiderius Pongrácz, die Hongaarse edelman wat dit geïnspireer het. Dit het 'n indrukwekkende mousse met pêrelborrels wat langdurig sprankel, terwyl 'n klassieke gis- en beskuitjiekarakter lei tot 'n volronde, vrugtige mondgevoel.
Pongrácz is perfek vir enige geleentheid en werk uitstekend met hoender, seekos en oesters. Dit verkoop teen ongeveer R90 ’n bottel by vooraanstaande wynwinkels en supermarkte. Vir meer inligting, besoek www.pongracz.co.za.
Einde
© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy
Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast