Pongrácz stel uitsonderlike nuwe oesjaar van spoggerige cuvée Desiderius bekend

Date posted:
November 14, 2012

 

‘n Splinternuwe oesjaar van die bekroonde cuvée, Desiderius Pongrácz, die toonaangewende Méthode Cap Classique wat dikwels met Franse sjampanje vergelyk word, is pas bekend gestel. Desiderius Pongrázc word slegs in uitsonderlike oesjare gemaak en die nuwe 2008-model is absolute elegansie in sy kenmerkende bottel.

 

Dié statige Cap Classique word handgemaak volgens die klassieke Franse tradisie en is ‘n elegante versnit van chardonnay (70%) en pinot noir (30%). Dit wakker die sintuie aan met vars vrugte-, amandel- en varsgebakte broodgeure.

 

“Ons maak Desiderius slegs in uitsonderlike oesjare en is trots daarop om sy naamgenoot te vereer met ‘n Cap Classique van uitsonderlike gehalte. Desiderius Pongrácz 2008 versinnebeeld elegansie, gehalte en edelheid, ‘n toonbeeld van grasie met ‘n uitsonderlike karakter. Dit is verleidelik met ‘n ryk kompleksiteit en effense groen skynsel met ligte, lewendige borrels en geurigheid op die tong,” sê die wynmaker, Elunda Basson, wat aanbeveel om spesiale oomblikke met dié voortreflike Cap Classique te vier.

 

Hierdie prestige cuvée is geïnspireer deur Desiderius Pongrácz, ‘n charismatiese, Hongaarse edelman wat ‘n groot bydrae tot wynbou in die Kaapse wynlande gelewer het. Dit is heerlik ryk met klassieke gisagtige geure danksy die vier jaar wat die vonkelwyn op die delikate gisafsaksels verouder het. Desiderius Pongrácz 2008 kikker die glas op met sy fyn pêrelborrels en het ‘n volronde smaak wat lei tot ‘n betowerende, talmende nasmaak.

 

Dié Pongrácz-keldertrots het ‘n indrukwekkende erfenis wat terugdateer na die eerste oesjaar in 1996. Sy 2003-voorloper het vanjaar verskeie eerbewyse ingeoes, insluitend dubbelgoud by sowel die 2012- Veritas-toekennings as die 2012- Five Nations Wine Challenge, en die trofee vir die beste bottelgegiste vonkelwyn by die 2012- International Wine and Spirit Challenge in Londen.

 

Desiderius Pongrácz 2008 is elegant en gesofistikeerd, ‘n luukse-keuse vir enige geleentheid. Dit is by boetiekwynwinkels beskikbaar teen ongeveer R255. 

 

Einde

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy

Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast

facebookinstagram