Sommige mense is darem maar meer geseënd as ander, né! Vat nou byvoorbeeld vir Elunda Basson, die vonkelwynspesialiste JC le Roux daar in die Devonvallei net buite Stellenbosch se wynmaker. Nie net maak sy wyn en vonkelwyn wat jou reg rondom jou kop breed laat glimlag nie, sy’s boonop ook nog mooi en het ‘n persoonlikheid wat selfs meer vonkel as haar lieflike vonkelwyne.
Maar genoeg oor Elunda, sy’t alweer die kollig gesteel met haar jongste vrystelling.
Pongrácz, die toonaangewende Cap Classique geïnspireer deur die charismatiese Hongaarse edelman, Desiderius Pongrácz, spog met ‘n splinternuwe vonkelwyn – die langverwagte Rosé wat ‘n gesofistikeerde sprankel aan die elegante reeks verleen.
Sjiek en stylvol met ‘n salmpienk-blos, delikate vrugtegeure en ‘n verfrissende droë mondgevoel, troon dié eiesoortige edelvonkel bo die res uit as ‘n uitsonderlike Cap Classique Rosé.
“Ek wou nog altyd ‘n besonderse pienk vonkelwyn maak wat oorloop van finesse, grasie en sprankelende sjarme,” vertel die ingenome Elunda oor dié Mademoiselle van alle Cap Classique rosé’s.
Tydloos en elegant geskep volgens die klassieke Franse tradisie met die uitsoek-variëteite chardonnay (60%) en pinot noir (40%), verheug die Pongrácz Rosé die sintuie met ‘n simfonie van fyn pêrelborrels in die glas en ‘n volronde mondgevoel wat lei tot ‘n betowerende, talmende nasmaak. Die chardonnay verleen ‘n skoon mineraalagtige karakter, terwyl die pinot noir struktuur, unieke smaak en ‘n aanloklike blos by die vonkelwynondervinding voeg
Hierdie blosende vonkel is perfek vir enige spoggerige geleentheid en is heerlik saam met hoendergeregte, seekos en oesters.
Pongrácz Rosé is beskikbaar by uitgesoekte wynhandelaars en verkoop teen ongeveer R98.00 per bottel.
EINDE
© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy
Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast