Platter’s terug met uitgawe propvol inligting

Date posted:
December 8, 2010

Platter’s, Suid-Afrika se gunsteling-wyngids, is terug met ‘n nuwe, “groen” uitgawe vir 2011 vol nuus, oorsigte en graderings van meer as 800 produsente en handelsmerke, insluitende 58 nuwelinge, en heelwat meer as 6 000 plaaslike wyne.

Beskikbaar in hardeband en binnekort as ‘n aflaaibare “App” vir die Apple iPhone®, iPad® en iPod touch®, asook aanlyn by www.wineonaplatter.com, bied die besonder omvattende Platter’s 2011 ook inligting oor waarheen om te gaan in die wynlande en wat om te doen. Uiteet-, verblyf- en proe-opsies word in detail gedek saam met ‘n groot verskeidenheid fasiliteite, attraksies en aktiwiteite. GPS-koördinate, kaarte maklik om te lees en tabelle bied hulpmiddels vir besoekers wat hul eie besoeke aan die wynlande beplan, terwyl diegene wat ‘n begeleide ervaring soek, hulp kan kry by die lys gespesialiseerde wyntoeroperateurs.

Die jongste inligting oor die vernaamste wynareas, kultivars, wynmaakstyle, wynproeterme en die bekendste wynkompetisies en toekennings word ook aangebied, asook ‘n lys van handelaars van topwyne en verskaffers van wynopvoeding regoor die land.

‘n Groot fokus van hierdie uitgawe met sy ekogerigte voorblad (“budbreak”-groen) is volhoubaarheid. Die voorwoord is geskryf deur Inge Kotzé, projek-koördineerder van die WWF se Biodiversiteit- en Wyn-Inisiatief, terwyl die volkleur-fotogalery en baie van die inskrywings in die A-Z-gids die volhoubaarheidstema reflekteer. Daar word ook gewys op gevalle waar organisasies en individue nie net die natuurlike omgewing restoureer en beskerm en biodiversiteit bevorder nie, maar ook omsien na die ewe belangrike maatskaplike en sake-aspekte van hul wynondernemings.

‘n Hoogtepunt van enige nuwe uitgawe is die vyfsterlys – daardie buitengewone wyne wat na afloop van ‘n tweede ronde proeë wegloop met die paneel se hoogste gradering op die Platter’s-skaal van 0-5 sterre. In hierdie uitgawe het ‘n rekordgetal van 58 wyne vyf sterre ontvang, insluitende 10 van gevestigde produsente met geen vorige vyfstergraderings, naamlik Delair Graff Estate, Hermanuspietersfontein, Julien Schaal, Lammershoek Winery, Reyneke Wines, Shannon Vineyards, StellenRust, Strandveld Wines, Topiary Wines en Zevenwacht, en een nuweling in die gids, Botanica Wines. (Die volledige lys vyfsterwyne verskyn onderaan.)

Die vyfsterwyne wat die meeste stemme by die beoordelaarspaneel ontvang het, word aangewys as Platter’s se wyne van die jaar. Hierdie keer is die Rooiwyn van die Jaar die De Trafford Shiraz 2008, beskryf as “pure hedonisme” met die potensiaal om uitmuntend te ontwikkel oor die volgende dekade, terwyl die Witwyn van die Jaar die Fleur du Cap Bergkelder Selection Noble Late Harvest 2009 is, gemaak van hoofsaaklik chenin blanc en beskryf as “treffend” met uitstekende balans tussen ryp vrugte en fris suur.

In hul voortgesette fokus op waarde vir geld het Platter’s se paneel ‘n hele paar intreevlakwyne geidentifiseer as buitengewoon drinkbaar en goed geprys. Die beste hiervan, nes die vyfsterkandidate, is in ‘n tweede ronde “blind” geproe om die “superquaffer” van die jaar aan te wys. Nadat chenin blancs drie jaar agtereenvolgens die septer geswaai het in hierdie kategorie, het chenin vanjaar die eer gedeel met sauvignon blanc en chardonnay en het Nederburg Wines se effe-droë Lyric 2010, beskryf as ‘n “viering van vrugte” en ‘n lieflike demonstrasie van hoe goed hierdie drie kultivars kan saamwerk, gewen.

Die name van die ander 12 “quaffers” verskyn in die nuwe gids onder die opskrif “Wines of the Year” tesame met die 58 vyfsterwyne, die 92 wyne wat hoogs aanbeveel word (wat vyf sterre gemis het, maar wat op hul eie steeds puik is) en eweveel rooi-, wit- en gefortifiseerde wyne wat uitstekende potensiaal vir veroudering toon. Hierdie wyne vir veroudering verskyn onder die opskrif “Buy Now, Drink Later”.

Platter’s se invloedryke wynmakery van die jaar-toekenning is die redakteur se persoonlike keuse nadat ‘n verskeidenheid kriteria in ag geneem is. Die doel is om ‘n produsent wat die beste van Suid-Afrikaanse wynmaak vandag verteenwoordig, te vereer. “Vir hierdie uitgawe het die wynmakery hom basies self gekies,” sê die redakteur, Philip  van Zyl, “aangesien hy kop en skouers bo die res uitstaan. Reeds een van die mees gereelde vyfsterwynprodusente in die gids se 31-jarige bestaan, met 18 top graderings oor 11 uitgawes, het dit hierdie keer nog ‘n mylpaal behaal deur ‘n rekordgetal vyfstergraderings te ontvang, asook die toekenning van ‘Superquaffer of the Year’. Ons het derhalwe nie gehuiwer nie om Nederburg Wines as ons wynmakery van die jaar vir 2011 aan te wys. Veels geluk aan die keldermneester, Razvan Macici, en sy span op ‘n merkwaardige prestasie.”

Platter’s se 2011-hardebanduitgawe is landwyd by uitgesoekte handelaars beskikbaar en kos R159,99. Dit kan ook aanlyn by Kalahari.net (www.kalahari.net) bestel word, asook by SA Wines Online (www.sawinesonline.co.uk). Die iPhone App®-weergawe, in samewerking met Wine-Oh!, sal oor die volgende paar weke aanlyn beskikbaar word by www.wine-oh.info. Die webweergawe sal kort daarna beskikbaar wees op die nuwe adres, www.wineonaplatter.com.

Einde

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy

Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast

facebookinstagram