Kort op die hakke van ‘n hele rits lofbetuigings wat die Franschhoek-wynvallei vanjaar ontvang het, kom die nuus dat Cape Chamonix, onder die bekwame leiding van sy keldermeester, Gotfried Mocke, vanjaar die gesogte titel van Wynmakery van die Jaar in die 2013-uitgawe van die Platter-wyngids los geslaan het.
Die kelder het ook vier vyfstergraderings ontvang, die enigste produsent wat met soveel vereer is in die gesaghebbende en internasionaal erkende wyngids wat later vandeesmaand op die rakke verskyn.
Hierdie gesogte toekenning is die redakteur se persoonlike keuse nadat ‘n verskeidenheid kriteria in ag geneem is, en die doel is om die kollig op ‘n wynrodusent te laat val wat die heel beste van die Suid-Afrikaanse wynboubedryf verteenwoordig. Die toekenning is die gevolg van die proe vir die vyfstergraderings, en tesame met Chamonix se voortdurende strewe na perfeksie, het sy vier vyfstergraderings van hom die ooglopende keuse gemaak vir die 2013- Wynmakery van die Jaar-kroon.
Die hoogs aangeskrewe wynmaker van Boekenhoutskloof, Mark Kent, het hierdie gesogte titel in 2011 ontvang wat net weer bevestig dat die Franschhoek-wynvallei een van Suid-Afrika se voorste wynproduserende areas is.
“Ons is ontsettend trots op ons wynmakers wat voortdurent wyn van wêreldgehalte lewer. Sodoende hou hulle Franschhoek in die gedagtes van plaaslike en buitelandse besoekers as ‘n wynbestemming van formaat,” sê Jenny Prinsloo, HUB van die Franschhoek-wynvallei.
Einde
© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy
Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast