Platinum én goud vir De Krans op Michelangelo International Wine Awards

Kort op die hakke van lofbetuigings uit die pen van die bekende Britse wynkenner, Tim Atkin, het De Krans se Cape Vintage Reserve van sowel die 2015- as die 2016-oesjaar weer eens beïndruk. Hierdie keer het elkeen ’n Platinum-toekenning los geslaan op die 2018- Michelangelo International Wine Awards.

Asof dit nie genoeg lof is nie, het die De Krans Cape Vintage 2016 en De Krans Cape Tawny Limited Release goue medaljes ontvang op dieselfde kompetisie.

Die Platinum-wenners het elkeen ’n uitmuntende 96 punte uit ’n moontlike 100 behaal in Tim Atkin se gesaghebbende verslag oor Suid-Afrikaanse wyn. Die verslag is vroeër in September bekend gestel. Wat die kroon span op hierdie spogprestasies is die feit dat hierdie wyne ook aangewys as die algehele wenners in die kategorie Gefortifiseerde Wyn van die Jaar in sowel 2017 as 2018.

Volgens De Krans se wynmaker, Louis van der Riet, is die Cape Vintage Reserve ’n “groot” wyn propvol ryp, donker vrugte soos pruim, moerbei en swartbessie. Dit is volrond met sweempies donker sjokolade en ferm tanniene, wat meebring dat die wyn goed behoort te verouder oor die volgende 30 jaar.

Reg van die begin af het die Michelangelo International Wine Awards homself van ander kompetisies onderskei deur hoofsaaklik internasionale wyn- en spirituskenners in sy beoordelingspaneel aan te stel. Vanjaar is 30 beoordelaars uit 16 lande gebruik om die rekordgetal inskrywings te takseer. Hulle het ’n Britse wynmeester, sommeliers, wyn- en spiritusprodusente, opvoeders, spirituskenners en invloedryke joernaliste uit Europa, die Verre Ooste en die Amerikas ingesluit. Sommige het reeds by talle geleenthede op Michelangelo-panele gedien.

Uit die 2 225 inskrywings vir vanjaar se kompetisie is 26 trofeë, 36 Platinum- en 150 Dubbelgoue medaljes deur die beoordelaars toegeken.

Vir meer inligting oor De Krans se veelbekroonde portwyne, besoek www.dekrans.co.za.

EINDE

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

You may use these HTML tags and attributes:

<a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <s> <strike> <strong>