Platinum en goud vir Bonnievale Wines op nasionale wyn-uitdaging

Bonnievale Wines se Limited Release-wynreeks het vanjaar puik presteer op die National Wine Challenge (NWC), ’n gesaghebbende wynkompetisie bekend vir sy streng beoordelingsprosedures en top beoordelaars. Die kompetisie fokus op premiumwyne om Suid-Afrika se top 100 te bepaal.

Tydens die 12de aanbieding van die NWC het die beoordelaarspaneel die Bonnievale Limited Release Cabernet Sauvignon 2019 met ’n dubbele platinum-toekenning beloon en is dié wenwyn ook onder die Top 100 SA Wines gelys.  Kort op sy hakke is Bonnievale se Limited Release Chardonnay 2021 wat dubbelgoud verower het.

“Dié eerbewys onderstreep weer eens ons geloof in ons wyne,” sê Bonnievale Wines se hoofwynmaker, Marthinus Rademeyer. “Volgehoue gehalte was nog altyd vir ons van die uiterste belang, en om bevestiging te ontvang van dié ervare beoordelaarspaneel, bewys net weer eens dat ons groot span produsente druiwe van gehalte lewer.”

Sedert hul heel eerste oesjaar, in 2017, is die Limited Release-wyne geen vreemdeling op die NWC se toekenningslys nie. Tydens vanjaar se kompetisie het die organiseerder, Robin von Holdt, beklemtoon dat die beoordelaars se taak buitengewoon moeilik was omdat die meeste afdelings uiters mededingend was. 

Die Bonnievale Limited Release Cabernet Sauvignon 2019 vertoon pragtige, skoon rooivrugte, veral framboos, met sweempies vinkel in die neus. Die sappige rooivrugte dra deur na die mond en word ondersteun deur fyn, ryp tanniene wat stuktuur en diepte aan die wyn verleen. Die wyn is vir 18 maande in hoofsaaklik nuwe Franse en Amerikaanse eikehoutvate verouder. Die resultaat is ’n gebalanseerde en goed geïntegreerde wyn wat lank ná die laaste slukkie nog in die mond talm.

Die Limited Release Cabernet Sauvignon 2019 kan dadelik geniet word. Geduld sal egter beloon word met ’n wyn wat verder oor ’n tydperk van nog sewe jaar sal ontwikkel. Die wyn komplementeer rooivleis- en wildsvleisdisse.

Die Bonnievale Limited Release Chardonnay 2021 vertoon sitrus in die neus, veral lemmetjie en bloedlemoen, wat deurdra na die mond. Dit is vars en het ’n kenmerkende flintagtige nasmaak. Ook hier is die Franse eikehout waarin die wyn vir sewe maande verouder is, goed geïntegreer. Dit ondersteun die vrug, maar lewer ook ’n elegante, geronde mondgevoel.

Die wyn kan ook dadelik geniet word, maar dit wys op sy mooiste na drie jaar. Bedien die wyn effens verkoel en geniet dit op sy eie, saam met ’n verouderde kaasbord of as pasmaat met eend- of varkgeregte.

Bonnievale Wines is landswyd beskikbaar of kan aanlyn bestel word by www.bonnievalewines.co.za. Die Chardonnay 2021 verkoop teen R101/bottel en die Cabernet Sauvignon 2019 teen R155/bottel.

Vir meer inligting oor Bonnievale Wines, besoek die webstuiste, skakel 023 616 2795 of stuur ’n epos aan info@bonnievalewines.co.za.

EINDE

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

You may use these HTML tags and attributes:

<a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <s> <strike> <strong>