Ter viering van sy 20ste oesjaar het Plaisir de Merle 'n vonkelwyn in die Méthode Cap Classique-styl bekend gestel, die Plaisir de Merle Grand Brut MCC 2010. Hierdie geskiedkundige wynlandgoed is in 1693 deur Franse Hugenote aan die voet van die Simonsberg tussen Paarl en Franschhoek gevestig.
Die nuwe vonkelwyn word in die klassieke Franse tradisie van twee edelkultivars, pinot noir (63%) en chardonnay (37%), gemaak. Die tipiese eienskappe van die twee kultivars kom sterk na vore in hierdie harmonieuse versnit - die kenmerkende volheid, geur en kompleksiteit van die pinot noir en die varsheid van die chardonnay.
Die wyn is in die egte Franse styl tydens die tweede gisting vir sowat twee jaar op die gismoer verouder waarna die gismoer op die tradisionele manier verwyder, die bottels gekurk en die wyn toegelaat is om 'n verdere vier maande te rus.
Die wyn het 'n ligte strooikleur en 'n fyn mousse met fyn gisgeure, delikate roosterbrood- en ryp vrugtegeure wat verlewendig word deur die talmende borrels wat dit uitsonderlik aangenaam maak.
Die Plaisir de Merle Grand Brut MCC 2010 bied 'n bruisende mondgevoel. Die chardonnay verleen gisgeure met die krokante varsheid van groenappels, terwyl die pinot noir 'n titseltjie blom-, kersie-en rooibessiegeure bied wat met veroudering meer kompleks sal word. Hierdie vonkelwyn met sy tydlose elegansie en kompleksiteit eindig met 'n lang, talmende nasmaak.
Niel Bester, wat sedert die eerste oesjaar 20 jaar gelede die keldermeester van Plaisir de Merle is, het die chardonnay-druiwe in 'n enkele wingerd uitgesoek wat toe 14 jaar oudwas. Dit lê 325 meter bo seespieël aan die suidoostelike hang van die Simonsberg.
“Die pinot noir-wingerde op die landgoed was in daardie stadium nog te jonk, daarom is die druiwe van twee 12 jaar oue wingerde naby Stellenbosch gepars. Die een lê teen 'n noordoostelike hang van die Helderberg en die ander teen een van die suidelike hellings van die Stellenbosch- berge,” vertel hy.
Plaisir de Merle se Grand Brut MCC 2010 is keurig in die kenmerkende Plaisir de Merle-styl verpak. Dit kos sowat R145 en is verkrygbaar by die voorste wynwinkels en wynafdelings, asook by die proelokaal op die landgoed.
Vir meer inligting, kontak Plaisir de Merle op 021 874 1071, per epos by plaisirdemerle@capelegends.co.za of by www.plaisirdemerle.co.za, of volg ons op Facebook.
Ends
© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy
Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast