Lewendig en vars is die oorheersende eienskappe van die jongste sauvignon blanc-vrystelling van die Plaisir de Merle-kelder, en die 2009-oesjaar lyk na ‘n besliste mondstreler vir hierdie somer.
Hierdie nuwe sauvignon - wat die groen, grasagtige aromas van brandnetels, groen soetrissie en vars kruie kombineer met ‘n nasmaak van ryp, tropiese vrugtegeure - is ‘n opwindende vrystelling van hierdie lang gevestigde wynplaas wat homself roem op die feit dat hy net die beste wyne lewer.
Niel Bester, as ‘n hoogs gerespekteerde keldermeester, is met reg trots op sy jongste skepping: ‘n goed gegeurde sauvignon blanc wat afkomstig is uit spesifieke wingerde om ‘n wyn te skep wat tipies is van hierdie kultivar, en getrou aan die jongste tendense.
Die druiwe is afkomstig van vier verskillende wingerde wat in ouderdom wissel van 8 tot 25 jaar en geleë is aan die suidoostelike hange van die Simonsberg. Hierdie toonaangewende plaas van 974 hektaar het 400 hektaar onder prima wingerde, maar slegs 80 hektaar daarvan is geïdentifiseer vir Plaisir de Merle se eie wyne.
Die finale versnit kombineer die ryper geure wat van die ouer wingerde op die laer hange afkomstig is met jonger druiwe van hoërliggende wingerde waar die koeler klimaatstoestande ideaal is vir die “koelklimaat-eienskappe” wat die wese is van vandag se beste sauvignon blanc-wyne.
Nie net het Bester se druiwe uit die beste wingerde gekom nie, maar hy is vanjaar ook geseën met die ideale weerstoestande voordat daar begin pluk is.
Vanjaar se matige somer het die perfekte rypwordtoestande geskep vir sy wit druiwe en dit, tesame met volgehoue navorsing, ontwikkeling en die toewyding van sy wingerdbouspan, het opwindende resultate gelewer.
Bo en behalwe sy gewilde “groen” beeld, bied hierdie nuwe, immergewilde sauvignon blanc ook puik verouderingspotensiaal, en hoewel hy nou reeds drinkbaar is, sal hy tot twee jaar van nou af steeds op sy beste wees.
Die 2009- Sauvignon Blanc van Plaisir de Merle is nou beskikbaar teen sowat R80 en sal ‘n perfekte pasmaat wees vir somerslaaie, pasta-disse en seekos.
Einde
© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy
Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast