Plaisir de Merle een van die Kaap se grootste juwele

Date posted:
May 5, 2011

Die Distell-kroon het ‘n hele paar juwele. Een van die grootstes is Plaisir de Merle by Simondium in die Groot Drakenstein tussen die Paarl en Franschhoek. Die plaas dateer 300 jaar terug na die tyd van Simon van der Stel, maar vandag nog straal hierdie spoggerige wynlandgoed die sjarme, deftigheid en verfyndheid van ‘n verlore era uit in sy geskiedkundige geboue, die lowergroen natuurskoon wat die geboue omarm en die majestieuse Simonsberg wat ‘n waaksame ogie oor die 974 hektaar hou.

Die verhaal van Plaisir de Merle begin in 1687 toe ‘n Hugenoot-kleinboer, Charles Marais, die klein dorpie van Le Plessis Marly in Frankryk verlaat het op soek na ‘n nuwe lewe vry van godsdienstige vervolging en armoede aan die Kaap die Goeie Hoop. Hy en sy gesin het hulle in die Groot Drakenstein gaan vestig en hul plaas (destyds 60 morg groot) na hul dorp van oorsprong vernoem. In die volksmond het Le Plessis Marly mettertyd Plessis Merle, Le Plaisir Merle en uiteindelik Plaisir de Merle geword.

Een van die kultuurskatte van die Kaapse wynland, die geskiedkundige herehuis op Plaisir de Merle (links), is onlangs tot sy voormalige glorie gerestoureer vir gebruik as ’n eksklusiewe fasiliteit vir troues en konferensies, en as korporatiewe gastehuis. Die herehuis met sy gewels en rietdak, wat in 1764 voltooi is, is ’n puik voorbeeld van die Kaaps Hollandse argitektoniese styl.

Die binnekant (regs onder) word gekenmerk deur ’n elegante en eklektiese versameling van oud en nuut met ’n verskeidenheid meubels in die Kaapse, Art Nouveau- en Art Deco-, bal-en-klou- en retro-styl om die landgoed se erfenis te reflekteer, asook sy progressiewe benadering tot wynmaak.

Die herehuis is slegs in sy geheel beskikbaar vir groepbesprekings van tot agt mense wat die hele fasiliteit vir ’n funksie huur, en sluit ontbyt in.

Die verblyf bestaan uit vier slaapkamers – ’n wittebrood-suite met sy eie badkamer, twee kamers met dubbelbeddens wat ’n volledige badkamer deel, en ’n vierde en suite-slaapkamer.

Vir meer besonderhede oor die herehuis, kontak vir Estelle Vos op 021-874-1071 of stuur ’n epos aan plaisirdemerle@capelegends.co.za.

Maar terug na dit waarvoor Plaisir de Merle eintlik bekend is, wyn van gehalte. Altesaam 375 hektaar van die plaas is met edelkultivars beplant. Hiervan is sowat 80 hektaar opsy gesit vir die uitsluitlike gebruik van die Plaisir de Merle-kelder, en hiervan maak Niel Bester, keldermeester, wyne wat nie net plaaslik smaakkliere bolmakiesie laat slaan nie, maar ook in die buiteland. Hulle word van chardonnay, sauvignon blanc, merlot, shiraz, malbec en petit verdot gemaak.

“Ons streef na vrugtegeurige tanniene eerder as harde tanniene,” vertel hy, “na wyn met verouderingspotensiaal, maar wat steeds redelik jonk baie drinkbaar is. Die klem is op die vasvang van soveel vrugtegeur moontlik en op die oordeelkundige gebruik van klein houtvate.”

Links: Een van die grootste voorregte as wynskrywer is om dan en wan die kans te kry om saam met die wynmaker uit die tenks en vate in die kelder te proe. Hier proe Tanya, Lize-Marie en Niel 'n witte wat vorentoe nog baie monde gaan laat water!

‘n Reeks tenkvolumes – van 210 liter tot 25 100 liter -  maak dit moontlik om wyne afkomstig vanaf spesifieke wingerdblokke te skei wat Niel toelaat om hulle individueel te monitor en te evalueer. En die resultate spreek vanself!

Die kelder, wat 800 ton druiwe kan hanteer en 1 400 vate bevat, is op 1 Desember 1993 geopen, heel gepas 300 jaar na die oorspronklike grondvergunning. Hoewel dit modern is, pas die kelder pragtig by die omgewing in en word dit gedeeltelik deur ‘n grag omring.

Ek het die voorreg gehad om tydens my besoek aan hierdie spoglandgoed saam met Niel en twee van Distell se pragtige (en professionele) dames, Tanya Jordaan en Lize-Marie Gradwell, die kelder “deeglik” te besoek. Dit beteken ons het uit tenks sowel as vate geproe, en dis altyd ‘n besonderse voorreg vir ‘n wynskrywer, en natuurlik ook ‘n teken van die vertroue wat die wynmaker in sy produk het.

Goeie kos, goeie wyn en goeie geselskap het onder die groot eikebome voor die herehuis bymekaar gekom vir die kersie op die koek van 'n buitengewone wynervaring op Plaisir de Merle. Niel, Tanya en Lize-Marie klink 'n glasie op Distell se groot juweel.

Nadat ons vir ‘n vale gesels en geproe het, het ons onder die bome voor daai pragtige herehuis gaan sit, slaggereed vir enige versterkings, maar tipies Distell is selfs die piekniek uitsonderlik gemaak. En hoe dan anders as jy die lekker kos met sulke puik wyn kan afsluk, en in die geselskap van sulke gawe mense. Dis natuurlik sulke tye – goeie kos, goeie wyn en goeie geselskap – dat mens agterkom waaroor die lewe gaan!

Ek kon tot sonsondergang daar gesit en kuier het, en selfs langer, maar alle goeie dinge kom mos tot ‘n einde. By die huis aangekom, het ek onmiddellik gaan kyk wat van Plaisir de Merle ek in my ou keldertjie het, en met ‘n skok moes ek sien dat net drie wyne van hulle daar pronk, ‘n 2007- Grand Plaisir, ‘n 2008- Malbec en die XV Celebration Blend waarmee hulle die 15de bestaansjaar van hul kelder gevier het. Ek sal moet plek maak vir meer!

Wanneer jy weer in daai omgewing is, doen jouself ‘n guns en gaan loer by Plaisir de Merle in. As die wyn jou nie ‘n dissipel maak nie, sal die natuurskone omgewing met sy geskiedkundige kultuurskatte beslis.

Einde

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy

Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast

facebookinstagram