Place in the Sun verdien hul plekkie in die son

Date posted:
August 29, 2012

Twee Place in the Sun-wyne kry in die 2013-uitgawe van die jaarlikse Best Value Guide erkenning vir uitstaande waarde vir geld. Die 2011-oesjaar van die Sauvignon Blanc en Merlot is gekies omdat hulle topgehalte vir die prys bied. Die kleinhandelprys van die witwyn is ongeveer R35 per bottel en die rooiwyn s’n sowat R45.

 

Die 2011- Shiraz het onlangs in Londen by die Decanter World Wine Awards ’n goue medalje gewen, terwyl die Cabernet Sauvignon ’n silwer medalje huis toe gebring het.

 

Die jongste lof beteken dat al vier wyne in die reeks vanjaar reeds positiewe erkenning gekry het, sê Deon Boshoff, Place in the Sun se keldermeester.

 

Die reeks, wat verlede jaar bekend gestel is, geniet Fairtrade-akkreditering en bestaan uit groot, dapper en gul wyne wat hul inspirasie put uit die bykans 300 dae met sonskyn wat die Kaap elke jaar geniet.

 

Die druiwe kom van ’n plaas met Fairtrade-akkreditering in die Devon-vallei naby Stellenbosch, en word teen ’n premie gekoop. Die opbrengs uit die premie word vir maatskaplike opheffing aangewend en die werkers besluit self hoe die geld bestee word. Tans betaal die premies vir projekte vir vroeë leer-ervarings, skoolgeld en -uniforms aan skole van die plaaswerkers se keuse, al hoe meer sportbedrywighede, en die skepping van ’n groentetuin om voeding onder plaaslike gemeenskappe te verbeter.

 

Boshoff sê dit is vir hom én talle lede van die kelderspan van besondere betekenis dat hulle met hul betrokkenheid by Place in the Sun-wyne ’n rol kan speel om wynplaaswerkers se lewens te verbeter. “Dié wyne kom uit die hart. Ons glo graag dat ’n mens dit in elkeen kan proe.”

 

Einde

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy

Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast

facebookinstagram