Simonsvlei Internasionaal en Lutzville Wingerde het ‘n multi-miljoenrand-ooreenkoms aangekondig wat noue samewerking tussen die twee maatskappye in die toekoms sal verseker.
Volgens Simonsvlei se besturende direkteur, Leonard van den Berg, volg die ooreenkoms op maandelange, intensiewe samesprekings en onderhandelings tussen die onderskeie rade.
“Ons voel baie positief oor hierdie strategiese alliansie en is oortuig daarvan dat samewerking die sleutel tot sukses is in hierdie hoogs mededingende bedryf,” reken Van den Berg.
Mnre. Johan Heckroodt en Jannie Mostert, onderskeidelik besturende direkteur en voorsitter van Lutzville Wingerde, het ook hulle entoesiasme bevestig. Hulle is van mening dat die ooreenkoms ‘n groot stap is om Lutzville se posisie as ‘n gehaltewynprodusent met uitstekende groeipotensiaal in die gebottelde handelsmerke te versterk deur gebruik te maak van Simonsvlei se gevestigde bemarkings- en botteleringsinfrastruktuur.
Volgens die ooreenkoms bekom Lutzville gedeeltelike eienaarskap van die Simonay-handelsmerk. Die twee maatskappye het verder ooreengekom om ‘n gesamentlike nasionale bemarkingsplan vir die Simonay-handelsmerk van stapel te stuur wat na verwagting verdere geleenthede vir die uitbreiding en ontwikkeling van die handelsmerk sal skep en tot versterkte handelsverhoudinge met verbruikers sal lei.
Daarbenewens sal Simonsvlei se bykomende vereistes in terme van bottelering, massavoorraad-storing, produksie en wynmaakfasiliteite aan Lutzville Wingerde gekontrakteer word. Lutzville sal verder dien as toevoerbron vir Simonsvlei se addisionele wynbehoeftes, terwyl Simonsvlei die verantwoordelikheid sal oorneem vir die bemarking van alle plaaslike Lutzville-handelsmerke deur hulle bestaande Suid-Afrikaanse kanale. Hierdie handelsmerke sluit Diamond Collection, Lutzville en Cape Elephant in.
Simonsvlei is in 1945 gestig en word internasionaal herken vir hulle toewyding tot innovering, integriteit, onafhanklikheid en entrepreneurswese. Terselfdertyd staan Simonsvlei bekend vir hulle produksie van gehaltewyne onder die Simonsvlei-naam en die skep van nuwe, toonaangewende handelsmerke soos South Atlantic, Ja-Mocha Pinotage en Toffee Chunk Syrah. Lutzville is geleë op die Weskus-wynroete en is tans die tweede grootste, onafhanklike kelder in die land met uitstekende terroir wat koelklimaattoestande insluit.
“Daar is beslis ‘n sinergie tussen die twee maatskappye en ons is opgewonde oor die pad vorentoe. Ons is oortuig daarvan dat ons gesamentlike kundigheid en infrastruktuur ons in staat sal stel om groeiende aanvraag te kan hanteer. Die wynbedryf staar ernstige uitdagings in die gesig en ons is vol vertroue dat hierdie ooreenkoms tot gemeenskaplike voordeel vir Simonsvlei en Lutzville sal lei,” meen François De Maniel, voorsitter van Simonsvlei.
Einde
© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy
Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast