Petite Sirah (uitgespreek “Peh-teet sear-ah”) - oftewel durif of petite syrah – is nie ’n petite weergawe van syrah of shiraz nie. Dit is ’n kultivar in eie reg en gebore uit die “huwelik” tussen syrah en peloursin. En as jy nog nooit van peloursin gehoor het nie, moenie sleg voel nie want dis ’n byna uitgestorwe druifsoort wat in net ’n paar plekke in die Franse Alpe gevind word.
Petite sirah is vir die eerste keer in Frankryk in die middel van die 1800s gevind. Dit is gewild vir sy diep, donker kleur en volronde geure van bloubessies, sjokolade, pruime en swart peper. Ondanks sy gewildheid is petite sirah uitsonderlik skaars met minder as 10 000 akker (sowat 4 000 hektaar) aangeplant, hoofsaaklik in Kalifornië.
Die kultivar se oorsponklike naam is durif en is geskep deur die botanis, Francois Durif, in Montpellier, Frankryk, rondom 1880. Dit is in die middel van die 1880s na Amerika ingevoer waar dit petite sirah herdoop is. Hierdie warm klimaat-druifsoort verloor dikwels te veel suur binne die eerste 7 jaar om dit ’n goeie kandidaat vir langtermyn-veroudering te maak. Vir veroudering oor die langer termyn moet daar verseker word dat die suur en vrugte in balans is met die tanniene.
Daar word voorgestel dat die wyn teen koeler temperature (soos byvoorbeeld 18°C) bedien word wat meer blomme- en minerale-aromas na vore bring tesame met die kultivar se kenmerkende, fors vrugtegeure. Met sy fris tanniene baat petite sirah by dekantering, en gee dit dan so 2-4 uur vir “ontspanning”.
Volronde wyne soos petite sirah met fris tanniene vra vir ryker, meer vetterige disse om balans te skep. Met sy rokerige vrugtegeure pas die wyn uitstekend by sterk, eksotiese speserye en kruie, maar moenie die dis té soet maak nie. Pas “gewig” by “gewig”!
Aanbevelings vir kosmaats sluit in oondgeroosterde vark- en beesvleis, braaivleis, biefburgers, verouderde Gouda-kaas, vars mozzarella, camembert, gesmelte Switserse kaas, pangebraaide sampioene, aubergine, swart boontjies, gekaramelliseerde uie en gevulde soetrissies.
(Bron: Wine Folly)
einde
© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy
Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast