Perold ABSA Cape Blend-kompetisie vereer top Kaapse versnitwyne

Date posted:
November 16, 2012

Wynliefhebbers regoor die wêreld weet van ‘n rooi versnit in die Bordeaux-styl, die klassieke, volronde Franse rooiwynversnit bestaande uit ‘n kombinasie van cabernet sauvignon, cabernet franc, merlot, malbec en petit verdot.

Minder weet egter van Suid-Afrika se eie unieke rooi versnitwyn wat in die sogenaamde Nuwe Wêreldse styl gemaak word met ‘n balans van goeie struktuur en heerlike vrugtegeure wat as Cape Blend (overgeset synde Kaapse Versnit) bekend staan. En dis tot hul eie nadeel!

Die naam Cape Blend verwys na Suid-Afrika se inheems gekweekte rooi kultivar, pinotage, wat minstens 30% of hoogstens 70% van die versnit moet uitmaak. Dit maak hierdie rooi versnitwyn uiteraard net so uniek en trots Suid-Afrikaans as pinotage self!

Vanjaar was die tweede keer dat die Perold ABSA Cape Blend-kompetisie aangebied is en weer eens kon slegs wyne wat hierdie eiesoortige styl verteenwoordig, deelneem.

Altesaam 42 wyne van 33 produsente is vir die kompetisie ingeskryf waaruit die beoordelaars die vyf finaliste aangewys het. En die top drie wenners van die 2012- Perold ABSA Cape Blend-kompetisie is (in alfabetiese volgorde): Beyerskloof Faith 2009, KWV Perold Tributum 2010 en Windmeul Reserve Cape Blend 2010. Die drie wenners het elk ‘n besoek aan ‘n oorsese wynstreek as prys los geslaan.

Die Beyerskloof-versnit bestaan uit 37% pinotage, 27% cabernet sauvignon, 27% merlot en 9% shiraz; die  KWV-versnit uit 36% pinotage, 27% cabernet sauvignon, 22% shiraz, 5% petit verdot, 5% tannat en 5% malbec; en die Windmeul-versnit uit 60% pinotage, 30% cabernet sauvignon, 5% merlot en 5% petit verdot.

Die twee naaswenners uit die vyf finaliste is Grangehurst Nikela 2005 (34% pinotage, 35% cabernet sauvignon, 23% shiraz en 8% merlot) en Lyngrove Platinum Latitude 2011 (40% pinotage, 40% cabernet sauvignon en 20% shiraz).

Vanjaar het dit weer duidelik geword hoe smaaklik pinotage en cabernet sauvignon mekaar omhels. In al vyf fifnaliste beslaan pinotage en cabernet sauvignon gesamentlik meer as 60% van die versnit.

Volgens die voorsitter van die paneel van vyf beoordelaars, Charles Hopkins, het verlede jaar se vyf finaliswyne almal ‘n sterk klap van shiraz in die versnit gehad en vanjaar toon cabernet sauvignon hoe ‘n goeie smaakmaat hy vir pinotage is.

“Mens neem waar daar is kelders wat die Cape Blend-rooiwyn hul vlagskipwyn wil maak en nog baie proewe doen om by hul wenresep uit te kom. Pinotage versny puik met shiraz, cabernet sauvignon en merlot. Vanjaar se uitstekende wyne lê die klem op die struktuur en voller lyf wat cabernet sauvignon saam met pinotage verskaf. Daar was bitter min foutwyne. Hier wag ‘n interessante groei in die eg Kaapse rooi versnit en die wynmakers se rondspeel met pinotage en ander kultivars gaan nog baie smaakervarings oplewer,” voeg hy by.

Die prysuitdeling is by KWV se hoofkantoor in die Paarl aangebied ter ere van Dr Abraham Perold wat vir jare by KWV betrokke was. Dr. Perold was die skepper van Suid-Afrika se inheemse pinotage toe hy in 1925 die kultivars hermitage en pinot noir gekruis het.

Einde

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy

Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast

facebookinstagram