Paul Cluver Wines se Seven Flags-reeks ’n trotse vlagdraer

Daar word reeds sedert die eerste eeu na Christus se geboorte druiwe verbou in Boergondië in Frankryk. Dis egter nie net die streek se antieke status wat dit as een van die wêreld se voorste wynstreke onderskei nie. Dis ook die feit dat chardonnay en pinot noir uit Boergondië hul plek van oorsprong, oftewel terroir, uitbeeld soos feitlik nêrens anders nie. En dis nie maklik met meer as 400 verskillende grondsamestellings nie!

 

Elgin is nie Boergondië nie, en moet ook nie so probeer wees nie. Per slot van sake, die doel van terroir-gedrewe wyne is nie om na te boots nie, maar eerder om hul plek van oorsprong op ’n wyse uit te druk wat vergelyk kan word met die wêreld se beste.

 

Koel seebriese, hoogte bo seevlak en drie bergreekse dra daartoe by dat Elgin as een van die land se koelste wynboustreke beskou word. Dit lei tot wyne wat tegelyk elegant en uitdrukkingsvol is, ideaal vir sowel chardonnay as pinot noir.

 

Paul Cluver Wines is die oudste wynprodusent in die Elgin-vallei, en hoewel die landgoed nie in Boergondië geleë is nie, werp dit alles in die stryd om die vlag te dra vir hierdie Franse wynstreek … in die persoon van Martin Prieur, een van die oorspronklike erfgename van die top Boergondiese produsent, Domaine Jacques Prieur. Martin werk nie net in die wingerde en kelder van Domaine Jacques Prieur nie, maar ook met die grootste produsent van pinot roir in die wêreld, Chile se Coño Sur. Dit was dus ’n logiese stap om Martin as konsultant aan te stel om saam met Paul Cluver Wines se wynmaker, Andries Burger, te werk. Burger word vandag beskou as een van Suid-Afrika se beste chardonnay- en pinot noir-makers.

 

Die gevolg is Paul Cluver Wines se vlagskip- Seven Flags-reeks waarvan die jongste oesjare pas bekend gestel is. Die reeks is vernoem na die sewe vlae op die familiewapen wat die sewe geskenke van God verteenwoordig, naamlik Kennis, Krag, Liefde van God, Goddelikheid, Wysheid, Raad en Begrip.

 

“Die Seven Flags Chardonnay 2017 en Pinot Noir 2016 is die heel beste uitdrukking van ons wyne,” sê Burger, “en wys dat ons werklik chardonnay en pinot noir van wêreldgehalte kan maak.”

 

Burger sê albei wyne is van druiwe uit die oudste wingerde op die landgoed gemaak. Die chardonnay-wingerde is die oudste in die vallei.

 

“Die Seven Flags Chardonnay 2017 bied ’n melodie van vars sitrusgeure met ligte winterpanspek en sweempies eikehout in die agtergrond. Dis ’n opwindende kombinasie van sitrusvrugte en groot finesse. Die Pinot Noir 2016 stel elegante rooi en donker vrugtegeure vry en eindig op ’n pragtige blommenoot. Dis ’n gulhartige wyn met uitsonderlike suiwerheid van vrug, puik struktuur en lengte.”

 

Dié twee Paul Cluver-vlagskipwyne kos R650 elk.

 

EINDE

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

You may use these HTML tags and attributes:

<a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <s> <strike> <strong>