Paarl oorheers eerste Hallo Merlot Top 10-kompetisie

Merlot-wyne uit die Paarlse wynstreek het die voortou geneem in die heel eerste Hallo Merlot Top 10-kompetisie. Die kompetisie is daarop gemik om die beste Suid-Afrikaanse wyne van die land se gewildste rooi kultivar te huldig.

Vier van die tien wyne wat die beste gevaar het, kom uit Paarlse kelders, gevolg deur drie uit Stellenbosch, met merlot-produsente uit Elgin, die Swartland en Constantia wat die res uitmaak.

Die merlot-wyne uit die Paarl wat so goed gevaar het, is die Glen Carlou Collection 2018, Anura Reserve 2020, Vondeling Barrel Selection 2019 en Landskroon 2020. Stellenbosch se drie presteerders is die Delaire Graff Banghoek Reserve 2019, Bein Little Merlot 2019 en Dornier 2019.

Org de Rac 2019 (Swarland), Groot Constantia 2018 (Constantia) en Elgin Vintners 2019 het die lys voltooi.

Die Hallo Merlot Top 10-kompetisie, gereël deur die South African Merlot Forum, het 71 inskrywings van wynkelders regoor die Kaap gelok.

Die “onbesonge held van Bordeaux” het sy stem dik gemaak.

“Die uitslae van die eerste Hallo Merlot Top 10-kompetisie onderstreep die algehele toewyding aan gehalte deur Suid-Afrikaanse wynmakers wat merlot produseer, asook die uitdrukking van terroir van streek tot streek wat die wyne weerspieël,” het Dawie Botha, Voorsitter van die Merlot Forum, gesê. “As die gewildste enkelkultivar-rooiwyn in Suid-Afrika was die verlore skakel die gebrek aan ’n kompetisie om die standaard van die wyne van hierdie kultivar te beoordeel, asook om die top produsente te vereer.”

Merlot het die afgelope 40 jaar ’n ongelooflike toename in gewildheid onder Kaapse wynboere beleef. In 1982 was daar slegs 81 hektaar onder merlot aangeplant. Vandag staan dit op meer as 5 400 hektaar.

Matthew Copeland, keldermeester van Vondeling Wines wat as sameroeper van die beoordelingspaneel gedien het, sê dit was geensins ’n verrassing dat die toekennings deur jonger wyne oorheers is nie.

“Die beoordelaars was dit eens dat die jonger wyne varsheid, elegansie en verfyndheid ten toon gestel het,” het hy bygevoeg.

EINDE

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

You may use these HTML tags and attributes:

<a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <s> <strike> <strong>