Overhex, De Krans glinster in goud op ‘Six Nations Wine Challenge’

Overhex Wines International is geen vreemdeling wanneer dit by toekennings en pryse kom nie. Sy Survivor Sauvignon Blanc 2017 (bo), deel van sy gewilde Swartlandse wynreeks, het koning gekraai op die 2018 Six Nations Wine Challenge deur met ‘n dubbelgoud beloon te word.

’n Ander wynmakery wat gereeld toekennings inryg, is De Krans in die Klein Karoo. Die jongste lofbetuiging vir hierdie bekroonde wynmakery aan die buitewyke van Calitzdorp kom ook vanaf die 2018 Six Nations Wine Challenge waar die De Krans Tritonia Calitzdorp Blend 2016 ’n goue medalje verwerf het.

Hierdie is die derde toekenning wat Overhex se Survivor Sauvignon Blanc 2017 los slaan. Die wyn spog reeds met goud van sowel die 2018 Old Mutual Trophy en die 2017 Michelangelo International Wine & Spirits Challenge.

Die Six Nations Wine Challenge is ’n jaarlikse kompetisie wat die kollig laat val op wyne uit die sogenaamde Nuwe Wêreldse wynproduserende lande Suid-Afrika, Australië, Kanada, Chili, Nieu-Seeland en die VSA.

Die Survivor Sauvignon Blanc 2017 met sy romerige tekstuur is gedeeltelik in houtvate gegis. Dit betower met lekker geure van tropiese vrugte, terwyl die vars suurgehalte en subtiele mineraalagtigheid tot sy aanloklikheid bydra.

Die Six Nations Wine Challenge gee erkenning aan die beste wyne uit die sogenaamde Nuwe Wêreld en bevorder hul gehalte en diversiteit. Wyne word slegs per uitnodiging vir hierdie kompetisie ingeskryf. ’n Totaal van 600 wyne word beoordeel deur ‘n paneel van verteenwoordigers uit elke deelnemende land. Elke jaar word die beoordelaars uitgenooi om 100 wyne te kies wat die beste van hul afsonderlike lande verteenwoordig.

Die Survivor Sauvignon Blanc 2017 kos R120 by die kelder en is landwyd by toonaangewende wynwinkels beskikbaar. Besoek www.overhexsurvivor.com om die wyn aanlyn te koop.

De Krans se vlagskip-rooiwyn is ‘n MOET vir elke wynliefhebber!

De Krans se “goue” wyn is vernoem na die pragtige tritonia-plant met sy kleurvolle blomme. Daar is agt verskillende spesies hiervan in die Klein Karoo, die mees komplekse en spesieryke droogtegebied in die wêreld.

Die Tritonia Calitzdorp Blend is ’n versnit van die Portugese kultivars touriga nacional, tinta roriz, tinta barocca en tinta amarela. Die wyn voer ’n puik balanstoertjie uit tussen volrond en intens aan die een kant en ryk en elegant aan die ander. Dit spog met geure van speserye en donker vrugte, en behoort die ideale pasmaat te wees vir wildsvleis, volstruis, oondgeroosterde lamsboud en beesvleis. Hierdie vlagskipwyn van De Krans is by die kelder te kry teen R170 per bottel.

Die goue medalje is nie hierdie wyn se enigste toekenning vanjaar nie. Dit het ook 93 punte uit ’n moontlike 100 gekry in die Britse wynkenner, Tim Atkin, se 2018 South African Report.

Vir meer inligting oor hierdie en ander wyne uit die omvattende De Krans-portefeulje, besoek www.dekrans.co.za.

EINDE

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

You may use these HTML tags and attributes:

<a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <s> <strike> <strong>