‘Oupa se wingerd’ maak geskiedenis

Date posted:
October 26, 2011

Net duskant Bonnievale, van Robertson se kant af, lê die wynlandgoed Weltevrede van Philip Jonker, seun van Lourens Jonker wat lank grootbaas van die KWV was. Weltevrede is bekend vir sy topgehalte wyne, maar wat baie mense nie weet nie is dat naby die Breërivier wat deur die plaas loop daar ‘n blok wingerd met 780 stokke lê wat as ‘n nasionale gedenkwaardigheid verklaar is. Die enigste in Suid-Afrika.

 

Daai wingerdstokke is deel van 16 000 stokkies wat in 1926 deur Philip se oupagrootjie, Klaas Jonker, die stigter van Weltevrede in 1912, aangeplant is. Dit is later “Oupa se wingerd” gedoop.

 

Hoewel die wingerd in 1986 uitgekap is, is besluit om 780 stokke as ‘n huldeblyk vir die nageslag te bewaar. Die pragtige, ou wingerdjie met sy dik, knopperige stompe lewer druiwe wat gebruik word om ‘n rooi muskadel te maak wat al ‘n groot gunsteling in Suid-Afrika, Holland en België geword het.

 

Alhoewel Oupa se Wyn en Ouma se Wyn nou al so bietjie langer in die tand is as die jong wyne wat die Suid-Afrikaanse mark vandag so oorval, kry dié paartjie dit sowaar nog reg om hul stempel deeglik af te druk waneer dit by gehalte kom. Oupa se Wyn het al goud verwerf by sowel die International Michaelangelo Awards as die International Wine and Spirits Competition, asook ‘n dubbel goud-toekenning by Veritas. Ouma se Wyn het ook nie op haar laat wag nie en spog ook met goud by die International Michaelangelo Awards, asook ‘n dubbel goud by Veritas.

 

Philip Jonker, meer bekend vir sy bekroonde chardonnays, sit die tradisie van die drie geslagte voor hom voort met die maak van Oupa en Ouma se Wyn.

 

“Ons kan nie voorbly met produksie nie en jaarliks moet ons oorgaan na allokasies voor die volgende oesjaar,” vertel hy. “Oupa se Wyn en Ouma se Wyn kom al ‘n lang pad saam met ons. Daar is ‘n warmte in Suid-Afrika vir hierdie twee wyne en dus sal hulle nog lank met ons wees.”

 

Philip vertel verder dat die tradisie om soetwyn saam met nagereg te geniet een van sy gunstelinge is. Ouma se Wyn (‘n wit muskadel) saam met crème caramel of crème brulée is hemels aan die einde van ‘n maaltyd, sê hy. ‘n Ander alternatief is om Ouma se Wyn te bedien op fyngemaakte ys en ‘n skyfie suurlemoen. Die suurlemoen breek die soetheid ‘n bietjie.

 

Oupa se Wyn (‘n rooi muskadel) is weer ongelooflik saam met enige swaar winternageregte, veerligte sjokolade-mousse of ‘n geurige kaasbord.

 

Skakel gerus vir Weltevrede by (023) 616-2141. Oupa en Ouma se Wyne is die ideale geskenk vir Moeders- en Vadersdag, en is verkrygbaar by verskeie Makro’s en ander kettinggroep-drankwinkels.

 

Einde

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy

Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast

facebookinstagram