Oude Meester het 'n nuwe versamelaarsbrandewyn, Souverein, aan die toppunt van sy reeks bekend gestel. Hierdie vorstelike potketelbrandewyn is versny uit brandewyne wat almal 18 jaar en ouer is. Net 1 000 liter van hierdie koninklike sopie is gemaak. Dit sal teen sowat R815 in spesialiswinkels veroop word.
Die nuwe brandewyn vertoon volgens die handelsmerkbestuurder, Khosi Ngema, die kenmerkende smaaksuiwerheid van Ouder Meester, maar is meer indrukwekkend as die dikwels bekroonde 12 Year Old Reserve of die gewilde en baie toeganklike Demant.
“Ons het dit die Nederlandse naam vir soewerein of heerser gegee as aanduiding van sy status binne die reeks. Souverein roep ook in die herinnering die goue munt bekend as die “sovereign” wat in die jare van die Britse Ryk in Pretoria gemunt is. Deesdae word hierdie munte, wat wêreldwyd by versamelaars gewild is, in die VK gemunt.”
Souverein is geskep deur Brink Liebenberg, wat vinnig besig is om met sy versnykuns, geleer by die bobaas-brandewynmeester Johan Venter, vir homself naam te maak. Volgens Liebenberg het hy dit gemaak in 'n “vorstelike, weelderige styl wat reg aan die naam laat geskied”. Hy het hiervoor ou brandewyne versny wat in Savalle-potketels gestook en jare lank onder kouer toestande as gewoonlik verouder is.
Die laer temperature lei tot stadiger veroudering met 'n gevolglike intense konsentrasie van aromas en smake.
“Temperatuur het 'n belangrike invloed op die karakter van 'n brandewyn tydens veroudering wat betref die tempo van molekulêre interaksie tussen die distillaat, die hout en suurstof.
“Dit is 'n elegante brandewyn met groot integriteit van geur en karakter. Dit begin in die mond met 'n verleidelike sagtheid, maar dan neem sy gewig, sy gravitas, jou volle aandag in beslag soos jy die eienskappe van gemmer, mokka en sjokolade ervaar, vermeng met die geure van bessiekonfyt en vanielje wat daarmee saamsmelt. Dit vul die mond en versadig die smaakorgane op 'n baie volledige en bevredigende wyse.”
Brink verkies om sy nuutste potketelbrandewyn te drink met twee blokkies ys van gedistilleerde water.
“Dit koel die brandewyn af sodat die warmte daarvan stadig op die tong ontvou – maar dit is net my persoonlike voorkeur. Baie ander, glo ek, sou verkies om daaraan te teug in 'n bolglas.”
Einde
© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy
Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast