Ou wingerde ’n spesiale aspek van SA wynbedryf

“Die verhoogte fokus op Suid-Afrika se ou wingerde het ’n ongekende belangstelling onder wynkenners regoor die wêreld tot gevolg, asook in die land se wyn-erfenis en die bedryf self. Die wyne wat gemaak word van druiwe afkomstig uit hierdie erfenis-wingerde wys oor en oor hul slag,” volgens André Morgenthal van die Old Vine Project (OVP).

 

Morgenthal sê OVP se ledetal het met rasse skrede van 10 lede verlede jaar tot die huidige 40 gegroei, en dit sluit ’n hele aantal korporatiewe produsente in. Meer as 80% van ouwingerdwyne word binne hierdie stelsels vervat. Die gewildheid en groeiende belangstelling in die OVP is ook eerstehands ervaar by proeë in Londen en Kanada – wat ondersteun en georganiseer is deur Wines of South Africa (WOSA) – sowel as plaaslike proeë by Klein Karoo Klassique en die US Woordfees.

 

Die OVP is amptelik in 2016 met die hulp van die Rupert Stigting gestig, hoewel dit reeds in 2002 die wingerdboukundige, Rosa Kruger, se idee was om al Suid-Afrika se ou wingerde aan te teken. Sy is in Julie aangewys as die Internasionale Wynpersoonlikheid van die Jaar by die International Wine Challenge 2018 en is steeds die dryfkrag agter die projek. Die Gesertifiseerde Erfenis-seël is vroeër vanjaar onder haar leierskap bekend gestel en lig Suid-Afrika (sover bekend) uit as die eerste land wat deur ’n enkele bedryfsliggaam, naamlik SAWIS, wingerdblokke ouer as 35 jaar sertifiseer.

 

Dit word gereken as ’n baie belangrike stap om ou wingerde te beskerm en het ’n hoë-profiel bemarkingstrategie geword waarin ’n standaard gestel én ’n nuwe kategorie gevestig is om die karakter-diepte – kenmerkend van wyne uit ouer wingerde – uit te lig.

 

Internasionale wynkenners, waaronder Tim Atkin, Neal Martin en Jancis Robinson, is trotse ambassadeurs vir die projek en het reeds geskryf oor die uitmuntende wyne wat van ou Suid-Afrikaanse wingerde gemaak word. By die onlangse Standard Bank Top 10 Chenin Blanc-uitdaging was die meeste wyne uit ouer wingerde afkomstig, en dit is ’n aanduiding van die vertroue wat SA produsente in chenin blanc uit ou wingerde plaas.

 

“Dis vir my geen verrassing dat ’n beduidende aantal van my ‘wyne en wynmakers van die jaar’ ’n ou wingerd-verbintenis het nie,” sê Atkin, ’n Britse wynmeester. “Dit bevestig hoe noodsaaklik die Old Vine Project in die Suid-Afrikaanse wynbedryf is en hoekom die land se erfenis-wingerde só uniek is.”

 

In ’n onlangse verslag wat op Vinous.com verskyn het, het Neal Martin genoem dat “Suid-Afrika een groot voordeel bo meeste van die res van die Nuwe Wêreld het … ou wingerde.” Sy ondersteuning vir die OVP word verder onderskryf in ’n ander opmerking: “Vir mense wat nou eers vertroud word met Suid-Afrikaanse wyne, is hierdie projek beslis die moeite werd om na te volg want dit lei tot baie van die land se uitstekende wyne.”

 

EINDE

One thought on Ou wingerde ’n spesiale aspek van SA wynbedryf

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

You may use these HTML tags and attributes:

<a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <s> <strike> <strong>