Op Alto vloei die wyn rooi, rustig en roemryk!

Date posted:
December 9, 2011

Dink aan Alto en jy dink onmiddellik aan Alto Rouge, eens beskou as een van die “aristokrate” onder Suid-Afrika se wyne en vandag steeds ‘n wyn met vele deugde, ‘n wyn wat daai Italiaanse woordjie “bevebilita”, wat pure genot beteken, waardig is. Jy dink ook aan oom Piet du Toit en sy seun Hempies, die oud-Springbokstut wat vandag ‘n katspoegie van Alto af op Annandale boer en wyn maak. En meer onlangs aan Schalk van der Westhuizen, daai lang, stil en bedeesde man wat sy wyne die praatwerk laat doen. En kan hulle praat!

Links: Alto Rouge waar dit alles eintlik maar begin het en wat vandag nog 'n wyn is wat die tonge oral los maak.

Maar terug na Alto wat net buite Stellenbosch aan die voet van die Helderberg geleë is. Soos baie Suid-Afrikaanse wynplase het Alto die lewe begin as deel van ‘n groter plaas, Groenrivier. Groenrivier is in 1693 toegeken aan ‘n pionierende boer, maar hoewel wingerd vroeg reeds geplant is, was dit nooit ‘n belangrike deel van die plaas se bedrywighede nie ... tot in die vroeë 20ste eeu.

Hennie Malan het in 1919 die voetheuwels van die Helderberg begin skoonmaak en rooi kultivars begin aanplant. Eers was daar hermitage, en toe het cabernet sauvignon, shiraz, pinot noir, gamay en cinsaut gevolg. Die pinot noir en gamay is later uitgetrek. Vir dekades lank was Alto die enigste plaas in hierdie geweste wat wyn gemaak het, asook die eerste wat ‘n robynrooi wyn uitgevoer het. Hierdie wyn het later as Alto Rouge bekend geword. In 1924 is ‘n monster van Alto Rouge, wat toe uit hermitage-druiwe bestaan het, Engeland toe gestuur waar die wynhandelaar Burgoyne in Londen dit so goed gevind het dat hulle ‘n vyfjaarkontrak met die plaas aangegaan het. Hierdie uitvoerkontrak is later vir nog 10 jaar verleng. Alto het tot in 1962 Alto Rouge aan Burgoyne gelewer en toe het Die Bergkelder die bemarking oorgeneem.

Interessant genoeg, Alto Rouge is eers in 1933 aan die Suid-Afrikaanse mark bekend gestel, nege jaar nadat die Engelse die voorreg gehad het om dit te proe, te waardeer en te geniet.

Net so terloops, die plaas se hoofhuis is in 1919 gebou en die kelder het ‘n jaar later gevolg. Albei geboue is hoofsaaklik onveranderd, behalwe dat die kelder intussen uitgebrei het.

Manie Malan het die leisels by sy pa oorgeneem.  Hy was een van die eerste studente wat landbou aan die Universiteit van Stellenbosch gestudeer het en, volgens oom Piet du Toit, “’n man met buitengewone vermoëns”. ‘n Rooi versnitwyn wat hy gemaak het, was so goed dat dit 6 jaar agtereenvolgens, tussen 1924 en 1929, die prys as die beste “Boergondiese tipe droë rooiwyn” op die Kaapse Wynskou gewen het!

Regs: Oom Piet du Toit en Hempies, 'n integrale deel van die geskiedenis van Alto.

Toe oom Piet in 1959 as bestuurder en wynmaker op Alto begin het, was sy eerste prioriteit om te verseker dat Alto Rouge sy status as ‘n rooiwyn van gehalte behou en om dit uit te bou as ‘n ikoniese wyn.  In 1965 het hy begin om cabernet sauvignon eenkant te hou om dit as enkelkultivar te bottel. Hierdie wyn is in 1971 bekend gestel. Tot vandag bly hierdie heel eerste oesjaar Alto Cabernet Sauvignon ‘n merkwaardige wyn.

Oom Piet het later ook Alto se rooi versnit, die MPHS 2007, die lig laat sien. Die letters verwys na die vier wynmakers van Alto, Manie Malan, Piet du Toit, Hempies du Toit en Schalk van der Westhuizen, wat sedert 2000 die leisels in die kelder oorgeneem het.

“Daar is geen kortpaaie as dit by gehalte kom nie,” het Oom Piet altyd gesê, en Hempies en Schalk stem saam.

Alto het nie net die voortou geneem op die rooiwynfront nie, maar was ook grootliks verantwoordelik vir die bevordering van die konsep van “landgoedwyn”. En hierdie bekende rooiwynprodusent was weer eens op die voorgrond toe daar in 1973 besluit is op die Wyn van Oorsprong-stelsel. Alto is beslis nie net nóg ‘n naam op die Suid-Afrikaanse wynlandskap nie!

Hempies het in 1983 by sy pa oorgeneem, maar 17 jaar later besluit om sy “eie ding te doen” en gaan nes skop op Annandale, ‘n hanetree van Alto op dieselfde pad. Schalk, nes Hempies ‘n oud-leerling van die bekende Paul Roos-Gimnasium op Stellenbosch, maak die afgelope dekade Alto se Rouge, Cabernet Sauvignon, Shiraz en Port.

Links: Schalk van der Westhuizen by die wyne wat hy met liefde en toewyding op Alto maak. En die een is lekker as die ander!

Ek het onlangs die voorreg gehad om saam met Schalk Alto se wyne te proe op die stoep voor die proekamer, saam met drie patees en vars brood. En terwyl ons geproe het en ons oë oor die natuurskoon van daai omgewing laat wandel het, het ons rustig gesels oor ditjies en datjies, soos oud-Paul Rosers. Ja, en hy’t my vertel van sy en Alto se wynmaakfilosofie.

Soos ek reg aan die begin gesê het, Schalk is nie die praterige soort nie. Gaan proe gerus sy wyne en luister na jou smaakkliere. Hulle sal jou die hele storie vertel! En jy sal daarvan hou. Sommer baie!

Maar voor ek iets baie belangrik vergeet. My metaalmetgesel vir die week waartydens ek Alto besoek het, asook die KWV vir die bekendstelling van hul nuwestyl- Roodeberg, was die Honda Accord 2.4 i-VTEC Exclusive, ‘n motor wat my laat dink aan die mooiste beskrywing van ‘n motor wat ek baie jare gelede gehoor het: “This is not just a car, this is a carriage for a gentleman!” Maar onthou net, die “gentleman” wat hierdie Honda opsaal, beter murg in sy pype ook hê. Lees gerus meer by http://planeetwyn.co.za/node/3048.

Einde

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy

Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast

facebookinstagram