Vyftig jaar van rooiwyn maak, is geen geringe prestasie nie. En as dit ook nog oor twee geslagte uit dieselfde familie heen gaan, raak die prestasie net soveel meer spesiaal.
Die familie waarna ek verwys, is die Du Toits van Alto en Annandale daar aan die voet van die Helderberg tussen Stellenbosch en Somerset-Wes. Die geslagte word verteenwoordig deur Oom Piet en Gerhard, beter bekend as Hempies.
Oom Piet, wat eersdaags die skaal op 88 trek, kan ten beste beskryf word as sout van die aarde, of miskien moet ek eerder na hom verwys as ‘n toonbeeld van die wysheid van die grysheid! Met Hempies kan mens oorlog toe gaan. As die dag breek, sal Hempies hom regmaak! En as die donderweer slaan, sal hy terug slaan! Dis Hempies.
En net so van die os op die jas, en vir diegene wat nog nie weet nie, daai bynaam kom van skooldae af op Paul Roos-gimnasium op Stellenbosch toe Hempies se grys hemp altyd agter uit sy broek gehang het. Elke keer as hy aangepraat is om die hemp terug in sy broek te druk, het die hemp maar weer so saam met die hand uit die broek gekruip, so asof daai hemp noutevrees gehad het!
Maar kom ons kyk waar die 50 jaar van rooiwyn maak, begin het. Oom Piet was die tweede geslag Du Toit wat die gemengde boerdery op die familieplaas Ratelfontein tussen Villiersdorp en Worcester behartig het. Hier het sy wynmakery begin toe hy stookwyn gemaak het vir die koöperatiewe kelder op Villiersdorp.
Einde 1958 het hy sy vlerke gesprei en is hy as wynmaker en bestuurder op Alto buite Stellenbosch aangestel deur die destydse eienaar, Advokaat AH Broeksma. En dis hier, in 1959, dat Oom Piet begin het om rooiwyn te maak onder die wakende oog van Manie Malan wat Alto in 1919 begin het.
“By hom het ek geleer dat boekekennis goed en wel is, maar as jy nie jou hart en siel in wynmaak het nie, dan beteken boekekennis nie veel nie.”
Hy vertel vandag nog met ‘n glimlag die storie van ene Prof. Chris Theron van die Universiteit van Stellenbosch wat om raad gevra is oor watter druiwe op Alto in hierdie pragtige vallei die beste gaan aard.
“Hy’t sy hand so op my knie gesit en gesê: ‘Broertjie, hierdie is ‘n rooiwynplaas!’. En so het ek rooiwyn begin maak. In 1959, en vandag is dit 50 jaar later en doen Hempies dieselfde hier op Annandale.”
Oom Piet vertel met trots van die oorspronklike Alto Rouge wat “twee-derdes uit hermitage (of cinsaut) bestaan het en een-sesde elke uit shiraz en cabernet sauvignon”. “En daai hermitage was bosstokke wat maar net so 4 of 5 trossies per stok gedra het,” voeg hy dan by.
In die 1980’s was daar ook tinta barocca in die Alto Rouge, aldus Oom Piet.
In 1965 het Alto ‘n Cabernet Sauvignon bygekry wat drie jaar in vaatjies verouder het en daarna nog drie jaar in die bottel. Dit is in 1971 vrygestel. En dan wys hy met trots ‘n bottel Alto Cabernet Sauvignon 1965 wat Hempies onlangs ten duurste aangeskaf het ter herrinnering aan daai grootse geleentheid.
Oom Piet het die plaas in 1968 in ‘n vennootskap met Distillers aangeskaf en 20 jaar later sy aandele aan Distillers verkoop. Dis nou nadat hy in 1983 amptelik afgetree het.
Hempies vertel op sy beurt hoe hy saam met sy pa in die wingerde en kelder op Alto gewerk en geleer het. Hy het in 1976 by sy pa aangesluit en in die jaar 2000 was sy laaste oes op die plaas.
“Ons het snags in die kelder geslaap tydens die parsseisoen, en dis hoe ek leer wyn maak het. In die wingerd en in die kelder.”
En dan voeg hy by: “Ons is die enigste wynplaas in die Stellenbosch-omgewing wat nog ooit ‘n Grand Prix D’Honneur gewen het. Dit was in 1993 vir die 1984 Alto Cabernet Sauvignon.”
Hempies het die eerste Alto-port in 1997 gemaak, “‘n jaar nadat ek Annandale met die hulp van die bank gekoop het. Annandale was toe maar net 5 hektaar groot, maar ek het intussen omliggende grond aangekoop en vandag het ons 72 hektaar waarvan 45 hektaar onder rooi wingerd is”.
Die druiwe wat Hempies aangeplant het en waarmee hy sy spogwyne maak, is cabernet sauvignon, cabernet franc, merlot en shiraz. En die wyne wat hier op Annandale, skaars ‘n klipgooi of drie van Alto af op die Annandalepad, die lig sien, is ‘n cabernet sauvignon; ‘n Bordeaux-versnit wat as Cavalier bekend staan en hoofsaaklik bestaan uit cabernet sauvignon, cabernet franc en merlot; ‘n shiraz en ‘n port wat van shiraz-druiwe gemaak word.
Hempies praat met trots van Annandale en die vier wyne wat hy hier op die Franse manier maak.
“Die kelder dateer uit 1759. In 1906 is daar aanbouings gedoen, maar soos jy kan sien, dis nie ‘n moderne kelder vol staal nie. Dis ‘n eenvoudige kelder waar ons wyn op ‘n meer tradisionele manier maak, na aan die grond, die wingerd en die druiwe.
“So 66% van my wyn word plaaslik bemark, terwyl die res uitgevoer word na Swede hoofsaaklik, maar ook na Amerika en Duitsland.”
Gaan proe gerus op Annandale (021-881-3560/1) een van Hempies se rooies, of selfs daai heerlike soete, en moenie verbaas wees as jy nog Springbok-rugbyspelers in die pretensielose proelokaal raakloop nie. Maar dan kan dit ‘n gevaarlike gekuier word!
O ja, en moenie dink dit alles het by Oom Piet begin nie. Hempies vertel dat sy oupagrootjie hier teen die laat 1800s nagmaalwyn vir die NG Kerk op Villiersdorp gemaak het. Die Du Toits en Bacchus is dus al laaaaaaank vriende!
WEN! WEN! WEN!
Wen vier bottels (een elk) van Hempies se spoggerige Annandale-wyne en ‘n DVD van die bekende Lizz Meiring se eenvrouvertoning, “Elke ander duim ‘n dame”, deur slegs hierdie eenvoudige vragie te beantwoord: Wat is die naam van Annandale se Bordeaux-versnit? SMS (teen normale selfoontariewe) jou volle name, spasie, annandale, spasie, en jou antwoord aan 076 802 5294. Die wenner sal telefonies in kennis gestel word en moet self die prys gaan afhaal of reël vir die afhaal daarvan.
EINDE
© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy
Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast