Andries Blake, wat reeds jare lank keldermeester by Swartland-kelder is, is verseker van ‘n voortgesette voorraad druiwe van al sy huidige voorkeurwingerde en sy gunsteling-wyne in 2012 danksy ‘n belangrike vennootskap met Leeuwenkuil Family Vineyards. Die ooreenkoms skep ‘n meer stroombelynde maatskappy wat dit in staat stel om sy doelwit van beter gehaltewyn in elke prysklas na te streef.
Swartland-kelder sal die eerste keuse van alle druiwe hê wat by die kelder gelewer word en Andries het reeds met die uitsoekproses van die 2012-oes begin. Die nuwe ooreenkoms stel hom in staat om ook druiwe by ander produsente aan te koop, hoewel die Swartland-oorsprong altyd die eerste prioriteit sal bly.
Die buigsaamheid om opwindende nuwe wyne te maak wat die kelder onder sy Swartland Winemaker’s Collection-etiket kan aanbied, om sodoende sy premie-aanbieding uit te bou, is soos ‘n “nuwe lewe”, sê Andries. “Min wynmakers wat op hierdie skaal wyn maak, is in die eerste plek in staat om druiwe van gehalte te kry, en van wat ek tot dusver van hierdie oes gesien het, gaan ons top reekse beslis baat vind by hierdie nuwe werkpraktyk.”
Die nuwe ooreenkoms met Leeuwenkuil stel hierdie grootmaat-produsent in staat om die produksie- en keldergeriewe vir vyf jaar te huur wat dit in staat stel om sy produksie van grootmaatwyn te verhoog. Swartland-kelder word intussen in staat gestel om die groei van sy Swartland-handelsmerke na te streef, asook die vennootskappe wat dit in verskeie markte regoor die wêreld opgebou het.
Frans Maritz, voorsitter van Swartland-kelder, het die ooreenkoms beskryf as ‘n voorbeeld van die soort vennootskappe wat die toekoms van die Suid-Afrikaanse wynbedryf sal verseker. “Ons is verheug om die toekoms van Swartland-kelder op alle vlakke te verseker. Nou word ons meer ‘n bemarkingsentiteit wat hoofsaaklik kan fokus op die bevrediging van die behoeftes van ons kliënte. Hierdie ooreenkoms sal lei tot langtermynstabiliteit en vooruitgang vir Swartland-kelder en die gemeenskap wat dit dien.”
Besoek www.myswartland.co.za en www.swwines.co.za vir meer inligting oor Swartland-kelder en sy wyne.
Einde
© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy
Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast