Ontdek ‘swart goud’ op die Anthonij Rupert-landgoed

Truffels, wêreldwyd bekend as “swart goud”, is kulinêre fynkos wat dikwels ’n lekker onderwerp vir bespreking onder fynproewers is, nie net vir hul skaarsheid en prys nie, maar ook vir die opwindende manier wat hulle die geure van soveel geregte verhef.

Maar truffels is nie net ’n Europese fynkos nie! Anthonij Rupert Wyne buite Franschhoek is die eerste wynlandgoed in Suid-Afrika wat swart Perigord-truffels verbou en produseer. Hierdie truffels van buitengewone gehalte word op die plaas Altima naby Villiersdorp verbou waar die koel klimaatstoestande ideaal is vir die produksie van hierdie skaars fynkos.

Eikeboomwortels is ingeënt met truffelspore en in September 2010 op Altima geplant. Die “truffeljagter” (ook bekend as ’n trufelau) Hanene van Dyk, wat haar “ambag” in Piedmont in Italië geleer het, werk ten nouste saam met haar spesiaal opgeleide Lagotto Romagnolo-honde om die truffels te “jag”.

Fynproewers sal verheug wees om te verneem dat hulle eersdaags hierdie skaars en gesogte fynkos op die Anthonij Rupert-landgoed kan geniet tydens eksklusiewe truffel-middagetes. Hierdie viergang-, truffel-geïnspireerde middagetes sal elke Vrydag en Saterdag beskikbaar wees regdeur die truffelseisoen wat van 24 Mei tot 20 Julie strek. Om ’n unieke en eksklusiewe ervaring te verseker, sal elke middagete tot ’n maksimum van 10 mense beperk wees.

Hoewel truffels uiteraard die middelpunt van belangstelling sal wees met elke gang, sal gaste ook die kans kry om vleis van die landgoed se eie Black Angus-beeste te geniet tydens die fynproewerfees. Elke gang sal gekombineer word met ’n Cape of Good Hope-wyn wat noukeurig uitgesoek is om by die gereg te pas. Die Cape of Good Hope-wyne word gemaak van druiwe uit wingerde wat om die eikehoutbos op Altima geleë is. Die truffel-geïnspireerde middagetes kos R950 per persoon en sluit die wyne in.

Vir die truffelfynproewer op soek na ’n uitsonderlike fynkos-avontuur bied Anthonij Rupert Wyne ’n eksklusiewe toer en “truffeljag-ervaring” op Altima. Hierbenewens is daar ook ’n keur van die landgoed se eie truffelprodukte, insluitende truffelgegeurde botter en truffelsout, te koop in die Terra del Capo-proelokaal vanaf Junie.

Vir enige navrae of om te bespreek, skakel 021 874 9041 of stuur ’n epos aan tasting@rupertwines.com.

EINDE

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

You may use these HTML tags and attributes:

<a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <s> <strike> <strong>