Omgewingschemikus wen Van Ryn’s-toekenning vir uitnemende brandewynkennis

Date posted:
May 17, 2010

Sarah Newton, wat onlangs as 'n Kaapse Wynmeester (CWM) gekwalifiseer het, het daarmee saam die 2010- Van Ryn’s-toekenning vir uitnemende brandewynkennis gewen. Sy het die hoogste punte in sowel die proe- as die teoretiese dele van die brandewynmodule van die CWM-kursus behaal. CWM is die hoogste kwalifikasie wat deur die Kaapse Wynakademie toegeken word. Die brandewynmodule is in 2006 tot die CWM-sillabus gevoeg.

 

Sarah, 'n senior omgewingschemikus van Johannesburg, het die Diploma II-kursus, die voorloper van die CWM, in 2001 voltooi. Sy is 'n aktiewe lid van drie wynproegroepe. Haar studieveld is analitiese chemie en sy het 'n honneursgraad in toegepaste chemie van die Universiteit van die Wiwatersrand. Sy werk tans vir SGS Environmental Services, deel van 'n wêreldwye toetsing- en sertifiseringsmaatskappy, waar sy haar toespits op omgewingstoetsing in die metallurgiese en mineraalverwerkingsbedrywe. 

 

Marilyn Cooper, hoof van die Kaapse Wynakademie, sê: “Sarah het 'n uitsonderlike vertroudheid getoon met brandewyn, sowel as 'n proeër en in haar teoretiese kennis. Die brandewynmodule van die CWM-kursus is verpligtend en sluit beide 'n geskrewe en 'n proetoets in oor brandewyne van oral ter wêreld.”

 

“Suid-Afrikaanse brandewyne is van 'n uitsonderlik hoë gehalte en die afgelope elf jaar is die titel van die wêreld se beste brandewyn nie minder nie as agt keer aan een van hulle toegeken. Dit is daarom noodsaaklik dat Kaapse Wynmeesters ook ervare brandewynproeërs moet wees in hul rol as ambassadeurs vir die hele wynbedryf. Dit sluit spiritualieë in wat van druiwe gemaak is,” het sy gesê.

 

Van Ryn’s, wat die CWM se brandewyntoekenning borg, het reeds drie keer die titel van “Worldwide Best Brandy” by die International Wine & Spirit Competition  gewen en twee keer die trofee vir die beste brandewyn by die International Spirits Challenge.

 

Vorige wenners van die Van Ryn’s-toekenning sluit in dr Duane Blaauw, 'n mediese dokter en navorser aan die Universiteit van die Witwatersrand; Winifred Bowman, wat 'n doktorsgraad in die opvoedkunde het; dr Andy Roediger, wat 'n doktorsgraad in chemie het en aan die Instituut vir Polimeerstudies aan die Universiteit van Stellenbosch verbonde is, en die joernalis Hymli Krige.

 

Die Van Ryn’s Collection Reserve-reeks word by die Van Ryn’s Distilleerdery op die wal van die Eersterivier in die Vlottenburgvallei by Stellenbosch met die hand geskep.

 

Einde

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy

Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast

facebookinstagram