Om net een soort wyn te drink, is sleg vir ’n mens. Jammer!

Dit kan met die beste onder ons gebeur. Daardie oomblik wanneer jy die eerste sluk neem van ’n nuwe wyn en dit sommer net daar en dan afskryf sonder om dit weer ’n slag te probeer, en jy stoot die glas weg asof daar gif in is.

Diegene wat proe vir ’n lewe, en ander wat al wyser geword het en ware wynliefhebbers is, wend ’n daadwerklike poging aan om nie in hierdie strik te trap nie. Dis net so belangrik vir mense wat net nou en dan ’n glasie geniet om ’n oop kop te hê aangesien dit maklik is om ’n wyn wat jy nie ken nie, en een waarmee jy miskien nie gemaklik is nie, te ignoreer.

“Keldersmaak” (oftewel cellar palate) is ’n manier om ’n toestand te beskryf wat met wynmakers gebeur wanneer hulle té gewoond raak aan hul eie wyne en die wyne van hul streke en selde wyne van buite hul omgewings proe. Die gebrek aan proe “van buite” en uitgebreide blootstelling aan die groter wynwêreld – die goeie, die slegte en alles tussenin – kan selfs hul vermoë beperk om die beste wyne moontlik te maak.

Maar “keldersmaak” is nie net beperk tot wynmakers nie. Dit kan ons almal besmet, van diegene betrokke in die wynbedryf tot mense wat net eenvoudig die plesier van gegiste druiwesap geniet. As ons oor en oor dieselfde wyn drink, of dit nou van een kultivar, een streek of een styl is, sluit ons onsself – ons koppe en monde – nie af van die ongelooflike breedte en diepte wat die wynwêreld bied nie?

“Dis belangrik om oopkop te wees aangesien dit te maklik kan gebeur dat mens ’n wyn buite jou gemaksone kan mis, en sodoende ’n uitsonderlike ervaring.”

As iemand wat baie jare lank vasgevang is in die wêreld van natuurlike wyn, waar die meeste van die wyne wat ek geproe het met natuurlike gis en feitlik geen hout, sulfate of enige byvoegings gemaak is, het ek my mond onbewustelik afgesluit van die res van die wynspektrum, en sodoende het ’n soort “keldersmaak” my voorland geword.

Die afgelope paar jaar het sowel my persoonlike groei en ontwikkeling as my rol as wynskrywer egter my mond se kennis uitgebrei en verbeter. Ek behou my liefde en waardering vir natuurlike wyne wat goed gemaak word, maar deur buite my gemaksone te proe, het ek ’n veel groter reeks wyne en wynstyle begin waardeer.

Ek het al opgehou tel hoeveel keer ek al gehoor het iemand sê dat hulle nie van natuurlike wyn hou nie, dat hulle net chardonnay drink, dat hulle net rooiwyn geniet. Die ontsaglike omvang van die wynwêreld en die diversiteit van wyne en wynstyle kan intimiderend wees, en daarom is die behoefte om die lens nouer te fokus, verstaanbaar. Maar deur dit te doen, loop mens die gevaar om een van wyn se wonderlikste eienskappe te mis:  sy nimmereindigende diversiteit.

Wyn is nie ’n bestemming nie, maar veel eerder ’n wonderlike reis van ontdekking en verkenning, ’n reis met geen einde in sig!

Ek neem my elke jaar voor om my net wyer te span en meer wyne en wynstyle te ontdek en verken. En ek’s nog nie een keer teleur gestel nie.

Onthou dus, voordat jy daai glas weg stoot, proe nog ’n slag.

EINDE

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

You may use these HTML tags and attributes:

<a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <s> <strike> <strong>