Oldenburg onthul manjifieke kelder en proelokaal in natuur se asemrowendste amfiteater

Date posted:
November 24, 2011

Was dit nie vir die heerlike Chenin Blanc, Chardonnay en Cabernet Franc wat ek saam met uiters smaaklike, gastronomiese “kunswerkies” in ‘n argitektoniese paradys in een van die natuur se mooiste, natuurlike amfiteaters geniet het nie, sou ek niks oor Oldenburg se nuwe kelder en proelokaal geskryf het nie.

Die rede? Wel, die persvrystelling het (weer eens) in Engels by my, ‘n trots Afrikaanse wynskrywer, aangekom, en ek het mos ‘n oompie dood daaraan! Maar ek reken ek gaan nie die ander wang draai nie.

O ja, voor ek vergeet, ek het toe die Cabernet Sauvignon gemis want ek kon voel my tong begin groter word in my mond en ek moes ver ry om weer by die huis te kom. Maar ek het Oldenburg se Cabernet Sauvignon by ‘n vorige geleentheid geproe en hy het toe reeds net regmerkies by my gekry.

Om op te som, ek het vir Adrian Vanderspuy, eienaar van Oldenburg, net vergewe vir die Engelse vrystelling danksy die lekker wyn, die heerlike kos, die pragtige proelokaal, die asemrowende uitsigte en die tipies Suid-Afrikaanse gasvryheid!

Kortliks, aan die einde van ‘n kronkelende paadjie anderkant Helshoogte tussen Stellenbosch en Pniel lê die tuiste van Oldenburg Vineyards, en dis hier waar Adrian met die hulp van ‘n bekende argitek ‘n gebou opgerig het wat nie net jou asem weg slaan nie, maar in ‘n natuurlike amfiteater van wingerde en berge wat jou sal laat snak na jou asem (dis nou nadat jy dit terug gekry het!) en wat ‘n waardige tuiste skep vir Oldenburg se uitmuntende wyne.

Smaaklik en stylvol, warm en aanloklik, dis Oldenburg Vineyards se proelokaal. Langs hierdie vertrek is daar 'n pragtige sitkamer met 'n kaggel wat veral in die winters baie mense gaan lok.

Maar dis nie net die asemrowende, natuurlike omgewing en die imposante gebou wat jou aandag sal vasvang nie. Die uitleg en dekor is daarop gemik om jou nie net tuis te laat voel nie - somer of winter, lente of herfs – maar terwyl jy lustig en rustig aan Oldenburg se puik wyne proe, kan jy jou oë laat wandel oor die moderne, stylvolle harmonie binne en, danksy groot vensters en deure, oor die pragtige, dramatiese amfiteater buite. Dit voel of jy net jou hand hoef uit te steek om aan daai berge te raak!

Aan die einde van die dag (jammer Naas!) beteken dit alles niks as dit nie deur die regte mense ondersteun word nie, en hier het Adrian ook gesorg dat hy net die beste aan sy sy het. Van Simon Thompson, die wynmaker, tot die pragtige en gawe dames wat sorg dat alles seepglad verloop, en van Adrian, wat jou in die vinoteek sal laat proe wanneer hy beskikbaar is, tot Toby, Simon se Jack Russell, sorg dat elke besoek ‘n heerlike herrinnering is. 

Oldenburg Vineyards se kelder is oop vir wynproe van Maandag tot Vrydag (10:00 – 16:30), maar vir proeë op Saterdae en openbare vakansiedae word gaste versoek om vooraf te reël deur 021-885-1618 te skakel of ‘n epos te stuur aan cellardoor@oldenburgvineyards.com. Die kelder is nie oop op Sondae nie. Die proefooi is R25 vir al vyf wyne.

Einde

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy

Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast

facebookinstagram