Oesjaar vol belofte ondanks strafste oes in menseheugenis

Date posted:
April 15, 2011

“Kort, kragtig en brutaal,” is die manier hoe Erhard Wolf, Distell se hoof-druiwe- en wynaankoper, die 2011-oes beskryf. “Gelukkig is gehalte nie ingeboet nie, maar uit ’n logistieke oogpunt was dit ’n buitengewoon moeilike jaar. Ons het oor die algemeen uitmuntende rooi- en meestal goeie witwyndruiwe by die kelders gesien aankom ondanks terugslae weens die weer.

 

“Ons inname vanjaar sou dramaties minder gewees het as dit nie was vir ons toegang tot wingerde wat ideaal by hul ligging pas nie, vir goeie loofbeheer, ons belegging in tegnologie om die waterstatus van wingerdstokke meer akkuraat te meet, ons voortdurende navorsing om optimale rypheid te identifiseer en ons vermoë om druiwe van wingerde regoor die Kaapse wynlande te kry nie.”

 

Wolf het gesê dat Distell se oes slegs 8% laer was as die jaarlikse gemiddelde, terwyl dié van sommige produsente tot 30% minder was. Distell is verantwoordelik vir byna ’n derde van die produksie van natuurlike en vonkelwyn in Suid-Afrika.

 

Hoewel die eerste druiwe in lyn met vorige jare laat in Januarie gepluk is, het bogemiddelde temperature in Februarie en Maart rypwording aansienlik versnel en die oes met sowat drie weke verkort. Pluk oor naweke, vroegoggend en saans het gehelp dat produsente hul druiwe betyds kon lewer. Die ontvangs van druiwe is ook tussen die maatskappy se kelders versprei om opeenhoping by een te verhinder.

 

“Daar bestaan geen twyfel oor die impak van aardverhitting nie. Die 2011-oes is die derde na mekaar wat gekenmerk is deur bonormale temperature,reën buite seisoen, droë periodes en buitengewoon sterk wind. Dit alles het die grootte van die oes geraak.”

 

Verlede jaar se oes was tussen 12% en 15% laer as in 2009.

 

Links: Erhard Wolf, Distell se hoof van druiwe- en wynaankope.

 

Wolf het gesê in die lig van veranderende weerstoestande fokus Distell op wingerdboukundige bestuurstegnieke om die temperatuur rondom trosse te verlaag om goeie kleur, suurvlakke en geurkonsentrasie te handhaaf. Die maatskappy verkry ook geurontwikkeling teen laer suikervlakke wat help om die wyn se alkoholvlak te verlaag. Hy het bygegoeg dat die gebruik van die Smart-Dyson-stelsel van vertikale lootposisionering in meer van Distell se wingerde nie net goed blyk te wees vir druifgehalte en groter oeste nie, maar dit help ook met windweerstand.

 

Ondanks ’n koue winter waartydens die stokke behoorlik kon rus, was die reënval van 20% tot 40% laer as die langtermyngemiddelde. Dit het daartoe gely dat grondwater tydens rypwording reeds uitgeput was. Die koue weer, vererger deur koue winde, het tot in die lente voortgeduur toe die wingerdstokke meer sonskyn nodig gehad het.

 

“Dit het die bot van die wingerde nadelig geraak en gelei tot groot en klein korrels aan dieselfde tros en ? laer opbrengs.

 

“Ons het vroeg reeds besef dat die oes kleiner as ander jare sou wees en het daarom vroegtydig plan gemaak om druiwe van ’n groot verskeidenheid van topgehalte-wingerde van oral in die Kaapse wynland te bekom.”

 

Wolf het gesê die volgende groot uitdagings was die hittegolwe vroeg in Januarie en weer in Februarie, maar suurvlakke en geur is deur goeie bestuur van die wingerde beskerm.

 

“Die hoër temperature kon weens die gevaar van uitermatige transpirasie ’n negatiewe uitwerking op geurontwikkeling gehad het as ons nie die beskerming van blaarbedekking gehad het om trosse teen sonbrand te beskerm nie. Daardie droëlandwingerde wat normaalweg toegang tot ekstra water het, kon van bykomende besproeiing gebruik maak, maar dié daar sonder het kleiner opbrengste gelewer.

 

“Vanjaar, vir die eerste keer, het ons toegang gehad tot draagbare drukkamers om die waterpotensiaal in blare te bepaal as ’n basis vir optimale besproeiingstrategieë. Sodoende het ons geweet wanneer en hoeveel om te besproei en kon ons die welsyn van die wingerdstokke beter bestuur.”

 

Hy het gesê die wingerdboukundiges was voortdurend in kontak met die wynmakers om protokols vir wingerdboukundige bestuur en oesstrategieë te bepaal.

 

“Chardonnay, wat voor die uiterste hitte in Februarie gepluk is, het uitstekende vrugtegeure gelewer, en so ook sauvignon blanc wat vroeër in die seisoen gepluk is. Danksy die groot verskeidenheid van plekke van waar ons druiwe kon kry, kon ons teen optimale gehaltevlakke in ons produksiebehoeftes voorsien. Die chenin blanc was in die algemeen baie goed, hoewel geure vanjaar miskien minder beklemtoon gaan wees as in onlangse jare.

 

Regs: 'n "Wurm" by een van die Distell-kelders sluk 'n vrag rooidruiwe in. Hiervan gaan topwyn gemaak word, weer eens!

 

“Die rooies het goed gevaar. Klein korrels met ’n goeie verhouding tusen dop en vrug sorg vir uitstekende kleur. Die geure is ook uitstekend en ek reken ons kan uitsien na wyne met ’n goeie konsentrasie van kultivareienskappe, maar miskien met sagter tanniene.

 

“Die opbrengs van edellaatoeswingerde was beslis kleiner aangesien sommige van die gebiede van waar ons tradisioneel die druiwe daarvoor bekom, het nie die oggendmis ervaar wat so belangrik is vir die ontwikkeling van die botrytis cinerea-swam wat die druiwe laat uitdroog en geure met ’n groot intensiteit lewer nie. Ons kon egter uit ander gebiede aankoop en is baie gelukkig met die algehele gehalte.”

 

Wolf het gesê om vir die langtermyn te beplan, is die maatskappy voortdurend besig om nuwe areas te ondersoek vir wingerdontwikkeling.

 

“Suid-Afrikaanse wetgewing beperk ons nie waar ons wingerde kan vestig soos in die geval met baie ouwêreldse wynlande nie. Ons het steeds grond beskikbaar en is opgewonde oor die moontlikhede wat dit bied.”

 

Distell is die eerste wat wingerde in Elgin, naby Gansbaai en in Ceres gevestig het. Druiwe uit hierdie koeler gebiede het gehelp om die impak van die buitengewone hitte van vanjaar teen te werk.

 

Einde

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy

Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast

facebookinstagram