Obikwa, die prettige reeks toeganklike wyne wat vroeg verlede jaar in Suid-Afrika bekend gestel is na die handelsmerk se wegholsukses oorsee, steek vanjaar weer eens sy kop op eie bodem uit met twee nuwe, bekostigbare wyne, ‘n Chardonnay en ‘n Cabernet Sauvignon.
Die Obikwa Chardonnay 2009 pronk met ‘n romerige mondgevoel propvol sitrus, marmalade en peer, met slegs ‘n tikkie hout, ideaal om op sy eie of saam met ‘n verskeidenheid voorgeregte of hoenderdisse te geniet.
Die OBIKWA Cabernet Sauvignon, ook afkomstig van die 2009-oesjaar, is volrond met heerlike pruime en kersies en word afgerond met delikate eikehoutspeserye en soliede tanniene.
“Hoewel die wyne reeds nou al geniet kan word, sal dit meer kompleksiteit en karakter binne die volgende drie jaar vertoon,” vertel die wynmaker, Michael Bucholz, wat graag die Cabernet Sauvignon saam met sy vleis geniet, veral lamsvleis op die kole, en ag beide die wyne as uitmuntende waarde vir geld.
Links: Die Obikwa Cabernet Sauvignon 2009.
“Selfs in ‘n strawwe ekonomiese tydperk het enkelvariëteitswyne positiewe groei op die plaaslike mark vertoon sedert verlede jaar, veral dié wat binne die prysklas van R20 –R35 val. Ons het dus gevoel dat dit tyd geword het om die Obikwa Chardonnay en Cabernet Sauvignon, wat goed deur die oorseese mark ontvang is, ook op eie bodem vry te stel,” verduidelik Obikwa se handelsbestuurder, Tania Kotze.
Obikwa is tans in 43 lande beskikbaar en een van Suid-Afrika se grootste wynhandelsmerke in Kanada sowel as Australië. Dié prettige wyne word wêreldwyd deur wynliefhebbers ervaar as ? gehaltewyn wat waarde vir geld bied.
Hierdie avontuurlustige wyne, wat in die diep spore van vorige Obikwa-wyne volg, sal teen ongeveer R23 elk beskikbaar wees. Hou dus gerus jou oë oop vir die uitspattige geel volstruis op die etiket in supermarkte en drankwinkels landwyd.
OBIKWA is ‘n plat-op-die-aarde, toeganklike reeks wyne met uitbundige karakter en kultuurryke sjarme teen bekostigbare pryse.
Einde
© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy
Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast