OBIKWA se wyne maak spore!

Date posted:
October 20, 2009

OBIKWA, die prettige reeks toeganklike wyne wat vroeër vanjaar hul kop onder Suid-Afrikaners kom uitgesteek het na hul suksesvolle lopie oorsee, het pas sy jongste babas bekend gestel.

 

Die OBIKWA Pinotage Rosé 2009, een van slegs ‘n handjie vol rosé-wyne wat vanjaar ‘n medalje op die Old Mutual Trophy-wynskou gewen het, is ‘n opgewekte somerwyn wat oorloop van soet pruim- en aarbeigeure.

 

Die 2009- OBIKWA Sauvignon Blanc is ‘n verfrissende wyn met volop geure van tropiese vrugte, appelliefies en ‘n titsel groenvye. Dié somersdrankie is perfek om op die patio te geniet en is ‘n heerlike pasmaat vir vis en ligte hoendergeregte.

 

Die ander 2009-oesjare in die reeks sluit ‘n vrugtige Chenin Blanc in met aanloklike blomgeure, ‘n Shiraz propvol speserye en ‘n ryk sinspeling van pruime, en ‘n fluweelsagte Merlot gevleg met bessies, sjokolade en ‘n sweempie vanielje.

 

“OBIKWA het al ons verwagtinge oortref en dien as bewys dat ten spyte van die huidige ekonomiese klimaat, daar steeds plek is vir kwaliteitwyne teen ‘n sakpasprys,” verduidelik Linley Schultz, die wynmaker.

 

Die OBIKWA-reeks is beskikbaar in ‘n verskeidenheid groottes, ieder gekroon met ‘n skroefdop om te verseker dat elke wyn kwaliteit bied teen ’n billike prys. Die 750ml-bottel verkoop teen ongeveer R23, terwyl die 1,5 liter-bottel sowat R43 kos by supermarkte en drankwinkels landswyd.

 

Einde

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy

Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast

facebookinstagram